Engela
Skrywer: Nico Schamrel Tags:Engela | kortverhaalbundel | Nico Schamrel |
Sinopsis:

“In jou kop is jou drome en jou stories; jou eie wêreld, ’n fantasie met verbeeldingsvlugte vol wonderwerke. Dit wat nie mooi is nie, kan jy inkleur in jou kop.”Die aanhaling kom uit een van Nico se kortverhale in hierdie bundel. Hy kon nie sy eie skryfwerk beter beskryf het nie! Hy het die gawe om uit ‘n eenvoudige storielyn fantasie op te tower. Met fyn nuanses lok hy die leser om dieper te lees en emosies te ervaar as wat soms aardse, eenvoudige karakters sou suggereer en wat aan elkeen van sy stories ‘n diep menslike karakter gee. Hy stel ons voor aan karakters wat groter is en meer beleef as die hier en nou. Hy vleg temas uit folklore, legendes en sprokies en dikwels uit die Bybel vernuftig in die konstruksie van sy verhale in en bring dit tot diepsinnige en verrassende ontknopings. Die eg menslike stories grens dikwels aan die bonatuurlike en feëtjieverhale met ‘n ryk simboliek. Hy trek jou tot binne-in die stories met haarfyn beskrywings van die situasies en atmosfeer. Nico kleur elke verhaal in met verrassende, glashelder, visuele tonele. Hy put ryklik uit die natuur en jy kan dit as’t ware sintuiglik ervaar deur sy fyn en raak beskrywings. Hy munt die skat van die Afrikaanse taal in ongewone, funksionele beskrywings; in die gebruik van idiome; metafore en vergelykings, en in ongewone woordkeuses. In bykans paragraaf na paragraaf staan jy verstom oor die skrywer se ryk woordeskat; sy spel met die taal; die maklike wisseling tussen die letterlike en die figuurlike.

<< Back