DIE DUIWEL IS IN DIE DETAIL: Marizka Coetzer het nie bekendstelling nodig nie. Daarvoor was daar genoeg skinderstories, opspraakwekkende koerantberigte en skandestories in poniekoerante. Tydskrifte was tog te gewillig om haar destydse lewensverhaal op te slurp vir sensasie.
Sy is die joernalis, verlief op ’n reeksmoordenaar wat deel was van die Krugersdorp-moorde. Hoe is dit moontlik dat ’n pragtige, getroude jong vrou verlief raak op ’n man wat die gruwelikste moorde gepleeg het? Hoe is dit moontlik dat ’n reeksmoordenaar, met bloed aan sy hande, ’n vrou ’n roos kan gee en haar met trots op sy hande dra? Le Roux Steyn – wie is hy regtig en hoe het hierdie liefdesverhaal gebeur?
Wat is die waarheid en wat is onwaar? Was dit regtig liefde of was dit ’n geleentheid vir iets groter? Wat is die storie agter die storie; die verhouding, ondersoeke en die skuldiges?
Marizka Coetzer het by ’n doodloopstraat gekom. Dit was tyd om terug te draai en ’n nuwe pad te kies, maar nie sonder afsluiting nie en nie sonder om haar eie stem te laat hoor nie. Hiérdie is haar storie in haar eie stem.
SINOPSIS:
n Selfmoord poging laat mens groot skrik; wakker skrik … en ontnugter. Dit is op daardie oomblik wat mens besef hoe kwesbaar en hoe kort die lewe is.
Maar al my dade – elke liewe daad – het ongelukkig die steenkool en stoker voorsien vir my eie persoonlike runaway train en hierdie een het nie remme nie.
Die verhouding met my gewese moordenaar-kêrel en die etiket as ’n moordenaar se meisie is een van die eerste labels wat moes weg. Hierdie etiket was in die verlede in ‘n negatiewe konteks op my geplak en so gelaat.
Maar ek is meer as dit en ek verdien ook meer as dit, en hy ook. Ek is meer as ‘n moordenaar se meisie. En hy is meer as ‘n moordenaar as ‘n lover. En as julle weet wat ek weet sou julle dadelik julle gordels vasmaak en vasklou, want hierdie storie is wilder as ‘n western film op sy beste.