DIE UITRUILSTUDENT en die kuns van die muse
Sunet reis na Innsbruck, Oostenryk om as uitruilstudent die fynere kuns van musiek te bestudeer. ’n Dag voor haar vertrek terug na Suid-Afrika, gebeur daar iets wat haar lewe handomkeer verander. Tydens ’n besoek aan ’n buitelugmuseum word sy – net soos prins Tamino in Mozart se Towerfluit – deur ’n bose ondier gejaag. Maar daar is geen Koningin van die Nag wat haar kom red nie en sy beland in die hospitaal met veelvuldige, ernstige beserings. In ’n oogwink verander haar sprankelende lewensverhaal na ’n leë, stukkende boek en PTSV is onvermydelik. “Hulle moes my onder op daardie lysie gelos het. Die dood sou genadiger gewees het.”
Tydens die geneesproses ontdek sy dat musiek meer is as om net daarna te luister vir genot en die breë kuns van die muse help haar om haar lewensverhaal oor te skryf. In die proses leer sy ’n belangrike lewensles: ’n Mens kan nie altyd die musiek kies wat die lewe vir jou speel nie, maar jy kan kies hoe om daarop te dans.