In Nog ‘n stomp op my vuur word die gedigte in vier afdelings ingedeel, naamlik: Nadenking (14), Pleitbriewe en Skuldbriewe (25), Wrokke (11) en Woordspore (29). Reeds met die eerste gedig ‘gevange van herfs’ in Afdeling I word die leser blootgestel aan die dood. Tematies verskaf hierdie gedig, saam met die titel van die bundel, die sleutel tot die lees van die bundel. Vuur word dikwels aangewend as metafoor om verganklikheid en sterflikheid uit te beeld. Poëtiese hulpmiddels soos vergelykings en enjambemente word vernuftig gebruik. Die sentrale fokus deur al die Afdelings figureer die innerlike onvermoë van die digter om die emosionele gewaarwordings van menswees, die aftakeling van sy liggaam, asook die verdriet wat verbrokkelde verhoudings meebring te aanvaar. Die digter verklaar dan hierdie onvermoë in gedigte wat as ars poetica bestempel kan word, en wat as ‘n rigtingaanwyser vir hom dien. Die digter sluit die bundel af met die gedig ‘bitter liefde’ waarmee hy volsirkel bereik tussen verdriet, verganklikheid en haat.