VAN NÊRENS NA ÊRENS: Kabous, Kiewiet, Lydia – sy is een en dieselfde mens, maar nie altyd nie … Haar verhaal begin in die Upington-distrik, gebore op ʼn plaas as die oudste kind. Haar ouers was trekboere wat skaap aangejaag het van staning tot uitspanplek, van weiding tot weiveld – altydmaar waar daar water is. Hoewel hulle bestaan moeilik was en van God se genadehand afhanklik, is die gesin relatief gelukkig en haar en Boetie se verhouding met Gert, hul aangenome Khoi-San broer, is kosbaar.
Kabous se verhouding met liewe Jesus is dié van intense belewing, veral in haar nagtelike drome. Haar geloof in die hemelse Vader is roerend wanneer sy bid vir water, vir reën, dat die skaap mekaar nie moet doodtrap wanneer hulle die reuk van water kry nie …
En dan haar belewing van die Kalahari-veld en -duine, haar liefde vir Ruby, haar perd wat sy al op die ouderdom van vier jaar bloots ry sodat die salpeter in wit skuimbolle op hom staan! Haar liefde vir Oupie, en vir Pa en Ma en Boetie – ten spyte van haar vurige humeur wat met tye die bloed laat loop.
Kiewiet is ʼn veldkind, kind vir die ooptes en die duine, kind wat baie vrae vra en selfs meer oor baie dinge dink. Lydia wil nie skool toe gaan nie; die inperking van haar vryheid is ʼn lot wat sy swaar aan dra. Toe sy standerd vyf voltooi, jok sy oor haar afskeidsbrief van die skoolhoof aan haar ouers en maak of sy dit verloor het. Sy het nie. Sy en Ruby het die brief self oopgemaak en gelees … en sy het dit fyn verflenter en vir die wind gegee. En sy hét matriek voltooi.
Min van Lydia-Kabous-Kiewiet se drome het tot volkomenheid gekom; vandag nog worstel sy met gevoelens en emosies oor gebeure wat sy eers later, soort van, verstaan het. Haar verhaal is hartwringend, vol emosie, maar ook gesaai met humor en verrassings. Niemand sal die boek neersit sonder om nog lank agterna, deur Kabous se lewe aangeraak te wees nie.