LEWENSSKETSE

Vertellings van lesse van waarde geleer

Fanie Marais

VOORWOORD

Wanneer ek terugkyk op my lewe is daar talle gebeure (sommige aan my oorvertel) as deel van die vormingsproses wat ʼn blywende invloed op my gehad het. Ek het as die jongste van vyf kinders die voorreg gehad om, met uitsondering van twee jaar op kosskool, tot die einde van my skoolloopbaan by my ouers aan huis te wees. Die laaste drie jaar (1958 –1960) te Misgund, Winterhoek, Tulbagh was besonder vormend en het drome ingesluit wat bepalend in die gang van my lewe was. Sommige gebeure in die lewens van ander sou ook ʼn besliste invloed op my eie hê.

Ek was bevoorreg om rigtinggewende lewensbeginsels van my ouers en ʼn groot aantal mense wat ek as mentors beskou het, my eie te maak en lewenslank die vrugte daarvan te kon pluk.

VOORSKOOLS

Om in iemand te glo

My Pa en Ma is in 1933 getroud.

Hy het op ʼn stadium as spoorwegwerker onder ʼn ploegbaas (Mnr Brand) gewerk wat potensiaal in hom raakgesien het. Hy het aan my pa ʼn lening sonder ʼn geskrewe ooreenkoms, gegee om ʼn voertuig te koop om ʼn vishandelsaak te begin. Die motor se agtersitplek was met ʼn metaalbak vervang waarin die vis gehou is. Dit het die koop van vis aan die Weskus behels, om dan op plase in die Swartland te verkoop waar die rantsoenstelsel deel van plaaswerkers se vergoeding was.

My pa kon die lening binne ʼn kort termyn terugbetaal.

Die vertroue van die weldoener om sonder sekuriteit in hom te glo, het in later jare dié beginsel stewig by my gevestig en ek sou dikwels interpreneurs help met bestuurshulp en uit beperkte eie bronne.

Met die stigting van Cordis Trust in 2000 is ʼn tydperk ingelui van gratis konsultasie, projekhulp en nispublikasies aan skeppende Afrikaanse woordkunstenaars.

Ernstige kindersiekte

Ek het op ʼn stadium twee kindersiektes gelyk gekry en was baie siek. Een nag het ek my ma gevra om my in ʼn glaskissie voor haar bed te hou as ek doodgaan. My pa moes die dokter op ʼn naburige dorp gaan haal – daar was nie ʼn telefoon nie. Toe die dokter die glasbuis en spuitnaald teen die kerslig hou om die vloeistof uit die botteltjie te trek, was dit genoeg om soos in ʼn wonderwerk gesond te word.

My besondere band met my Ma het tot haar dood in 1986 geduur en my geloof is dikwels deur ernstige siektes van die niere, longe, hart en keelkanker getoets.

Ek kan van verskeie wonderwerke wat ek ervaar het, getuig.

Kalf aan ʼn tou

Dit was ʼn algemene gebruik by dorpserwe om diere met ʼn tou vas te maak sodat hulle in ʼn beperkte gebied kon wei. Die dorpserf te Riebeek-Kasteel was ruim met heelwat weiding en groente-aanplantings.

Ons het ʼn kalf op tou gehad en ek is op ʼn keer met die tou vasgedraai. Dit was ʼn traumatiese ervaring wat my lank sou bybly.

Later jare het die gebeurtenis waarskynlik daartoe bygedra dat ek besonder sterk gevoelens ontwikkel het as omstandighede my inperk. Dit sou soms tot onverklaarbare besluite en loopbaanveranderinge lei.

Gelukkig het dit deurgaans positiewe resultate gehad en goedheid en guns het my gevolg.

Oorprysde groente

Met my geboorte was my pa ʼn kleinboer te Riebeek-Kasteel wat groente vir eie gebruik en verkoop op ʼn dorpserf en gehuurde grond verbou het. Sommige boere van die omgewing het groente by hom gekoop en dan geld by benadering betaal.

ʼn Deernisvolle feit is dat ʼn “ryk” boer op ʼn dag groente gekoop het en twee pond (later R4) aan my Pa gegee het. Dit was buite verhouding tot die waarde van die produkte. Die boer is kort daarna insolvent verklaar.

Die deernisgesindheid van die wat het teenoor die wat nie het nie is by en in my vasgelê as ʼn deurlopende ononderhandelbare lewensbeginsel

LAERSKOOL

Riebeek-Kasteel

Ek is in 1949 skooltoe op vyf-en –ʼn halfjaar en onthou min daarvan. Ek het skynbaar goed presteer.

Tulbaghweg

Teen die middel van 1952 het ons na die plaas Uitsig, Tulbaghweg verhuis en het ek by die plaaslike skooltjie met twee onderwyspersoneel aangesluit. Dit was afhanklik van die getalle van veral die spoorwegkinders en die skool is spoedig afgeskaal en het die tweede onderwyspos verloor. Dit het meegebring dat almal saam in een groot vertrek onderrig ontvang het.

Teen standerd vyf het ek die meeste werk geken en die onderwyser-skoolhoof het vir my gevorderde wiskundeprojekte gegee. In 1955 was daar twaalf leerlinge waarvan twee – ek was een – in standerd vyf. Dit was soos ʼn hegte familie en ek onthou nog elke leerling en hulle omstandighede wat meesal arm was. Wanneer daar by maats gespeel is, het ons brood, soms met Marmite, en aanmaakkoeldrank gekry.

Ek het my skoolmaats maklik jammer gekry en hoewel toemaar die enigste hulpmiddel was, weet ek dat dit in later jare ʼn groot rol in my lewensingesteldheid sou speel. Enige vorm van lyfstraf of afknou sou as geweld in my ingebrand bly.

Verskeie skoolmaats het vertroue in my gehad en later jare my opgesoek om dit te deel.

Vloed op die plaas Uitsig

Twee riviere het deel van die plaas gevorm. Gedurende my tyd op laerskool was daar op ʼn keer verskeie wolkbreuke in die wyer Tulbagh omgewing. Die riviere het hulle walle oorstroom, besproeiingstoerusting weggevoer en ou bome in ʼn oogwink ontwortel. Berigte van groot skade en mense wat in lewensnood verkeer het, het ons bereik.

ʼn Gedeelte van die Kerkstraat-begraafplaas op Tulbagh het weggespoel, waar van my voorgeslagte ook begrawe was. Die krag van die natuur het ʼn groot indruk op my gemaak en swaar reën en donderstorms hou steeds ʼn element van vrees vir my in.

Brand op Uitsig

Daar was n groot stoor met ʼn solder op die plaas. My pa het op ʼn keer lupiene, ʼn peulplant vir veevoer, van die loof geskei deur met die trekker daaroor te ry. ʼn Vonk uit die skoorsteen van die trekker het waarskynlik die kafbale op die solder aan die brand gesteek met my pa onbewus van wat gebeur het.

Ons drinkwater het in emmers in die kombuis gestaan. Toe my ma die brand sien het sy ʼn emmer water gegryp en begin hardloop na die brandende stoor. Dit en die felheid van die vlamme sal my altyd bybly.

Die reuk van brand was vir lank ʼn vreesfaktor in my en met my eerste motor het ek dikwels op reis gestop omdat ek brand ruik, afkomstig van huisies langs die pad, tot ergenis van my vrou.

Die gebeurtenis het ʼn les gehad, want die gebou was onderverseker en kon nie herbou word met die uitbetaling nie. Ek oorverseker waarskynlik gereeld met hierdie in gedagte.

Kleistene

Om die stoor wat afgebrand het te herbou, was my pa gedwing om sy eie kleistene te maak van geskikte grondstof op die plaas. Die klei is gebrei met ʼn proses waar ʼn donkie aan ʼn paal al in die rondte loop. Dit sou ʼn onuitwisbare gevoel van deernis by my laat en ek het dikwels gehuil oor die arme donkie se lot. Dit het my ʼn besondere ingesteldheid teenoor die lot van diere gegee.

Plaasvakansies

My pa se enigste broer, kinderloos, het op die plaas Jakkalsvlei in die Riebeek-Wesdistrik geboer en ek het dikwels daar gekuier.

Dit was ʼn saai- en skaapplaas met verskeie arbeiders in hul huisies en wat rantsoene ontvang het van meel, vleis en vis.

Die dopstelsel was in swang.

Maandeliks het die smouslorrie van Oom Herman Chinn van Malmesbury met groot opgewondenheid opgedaag. Dit het ruilhandel met plaasprodukte en selfs lewende hoenders ingesluit. Dit het ook ʼn gerolde koerantpapier houertjie met lekkers belowe.

Die arbeiders se kinders was my speelmaats en hulle ouers was streng. Dit was ook vroeg by my vasgelê dat ouer mense nie op hul naam aangespreek word nie.

Die dopstelsel het my met wrewel vervul en ek het drank in die algemeen as ʼn euwel beskou.

My voorgeslagte is in ʼn plaaskerkhof in die distrik begrawe.

Mentorskap

Ek het dikwels by oom Teddy Dunford op die nabygeleë Waterfall Guest Farm naby Tulbaghweg gaan kuier. Hy was ʼn Rhodesiër wat weens swak gesondheid afgetree het.

Hy was ʼn intekenaar op verskeie tydskrifte soos National Geographic en Popular Mechanics, baie belese en handvaardig. Hy het baie kennis aan my oorgedra en as mentor gedien.

Hy het my altyd geprys wanneer ek hom iets in geradbraakte Engels vertel het en dan kamma die volgende naweek uit ʼn boek of tydskrif gewys waar hy opgelees het oor die onderwerp. Solank ek kan onthou, het windpompe ʼn bekoring vir my. Teddy het saam met my skaalmodelle gebou en in die fynste besonderhede die sjablonne op planke uitgeteken. Ek het steeds die kennis en van die werklike plaatstukke wat ons uit leë parafienblikke geknip het. Hy het my ook leer fynsoldeer.

In 1954 het hy aan my ʼn skaalplan van ʼn padskraper uit Popular Mechanics gegee wat ek steeds het. So ook ʼn sketsplan wat hy uit die VSA van ʼn volgrootte trapkar bestel het.

Ek dink dikwels terug aan die man en sy vorming in my lewe, veral omdat hy my onkunde gebruik het om my te skool en nie as ʼn mindere hanteer het nie. Hy het bygedra tot my siening dat mens fasiliteerder van ander se talente moet wees en jou vreugde uit hul sukses put. Die voorreg het ek met ruim geleenthede en toerusting ervaar en geniet dit steeds elke dag van my lewe.

HOëRSKOOL

Kosskool 1956-57 Tulbagh

Kosskool was vir my ʼn groot aanpassing, deels omdat ek jonger as my klasmaats was en daaraan gewoond was om alleen saam met my ouers te woon. Dit het egter nuwe vriende gebring en die beskikbaarheid van elektrisiteit, stortgeriewe en ʼn verskeidenheid kossoorte.

Vaste tye vir studie was ook ʼn pluspunt vir latere eie dissipline. Ek hou nie van enige vorm van geweld nie en in ʼn koshuis is daar altyd groter kinders wat ander afknou.

Ek het ook agtergekom dat ek dikwels ʼn behoefte het om alleen te wees.

Misgund, Winterhoek 1958-1960

Die boerdery op die plaas Uitsig, Tulbaghweg, het nie uitgewerk nie. In hulle vyftiger jare bevind my ouers hulle in ʼn situasie van oorbegin op huurgrond sonder enige kapitaal.

Die kliphuis met sementvloere op die plaas Misgund teen die Winterhoekberg was langs ʼn watervoor met opdam-areas vir wasgoedwas en om drinkwater te skep. Daar was ʼn perskeboord en wingerd. Die wag op ʼn oes het begin. Intussen is grond skoongemaak en voorberei vir die aanplant van groente. Baie werk is deur my pa self gedoen.

My kamer het uitgekyk op ʼn tuin met enkele vrugtebome en die water wat verbyvloei altyd hoorbaar. Die op- en aflaaipunt van die skoolbus was ongeveer 2 myl van die plasie af en ek moes oor die grond van ʼn naburige plaas stap om daar te kom. Die rivier wat oor die huurplasie geloop het, het in die berge ontspring en deur die loop van die rivier bergwaarts te volg het my in kontak met fynbos gebring. Die verblyf van drie jaar hier sou ʼn blywende liefde vir fynbos bring en toekomsdrome tot gevolg hê wat in baie opsigte waar geword het. Hierdie is vandag ʼn gewilde staproete.

Skoolbus

Die groen skoolbus het vier rye banke gehad en die bestuurder het die deur met ʼn hefboom beheer. Om vir deelname aan sport toe te laat, het die bus lank na skool vertrek en gevolglik het ek wat byna op die verste punt van die roete gewoon het laat namiddag tuis gekom. Daar was talle stoppe op die roete. Die leerlinge het min of meer volgens standerds op die banke gesit. So het ek in my matriekjaar heel agter in die bus gesit.

Daar was talle Theron en Du Toit kinders en daar is dikwels op grond van die plaasname na hulle verwys. Die bestuurder het nie luiddrugtigheid geduld nie.

As ek lirieke kon skryf, sou kinders op die bus ʼn treffer gewees het. Ek het slegs met enkeles na Matriek skakeling gehad. Die name en plaasname is egter helder in my geheue. Hoewel daar ʼn sterk teenwoordigheid van ryk en arm was, het dit nooit na vore gekom nie. Polities was die SAP in die meerderheid en af en toe het verskille voorgekom, ek was NP vanuit huis. Soos op laerskool het die groepie op die bus my aan ʼn gesin herinner wat vir mekaar omgee. Dit het my met mooi herinneringe gelaat.

Farmer’s Weekly Medalje 1958

As lid van die Landsdiensbeweging het ek in 1958 vir ʼn gewasseprojek

ingeskryf. Die aartappels wat ek geplant het, het ʼn ongekende opbrengs gelewer.

Die Farmer’s Weekly medalje is daarvoor aan my toegeken. Ek het onlangs, na 65 jaar, weer daarna gekyk en met nostalgie teruggedink aan hierdie eerste jaar van ʼn nuwe begin vir my en my ouers. Behalwe die prysboeke wat ek jaarliks ontvang het, was hierdie ʼn hoogtepunt in ʼn tyd toe ‘om bo uit te kom’ baie belangrik was.

Mense om te onthou

Ek het ʼn goeie vriendskap met Nico Parrott, seun van die dokter op die dorp, gehad en dikwels by hulle aan huis gekom.

Hulle het in ʼn pragtige grasdakhuis met ʼn groot tuin gewoon. Die meubels was van soliede hout en hulle het smaakvolle eetgerei gebruik. Dr Parrott het ʼn nuwe Mercedes Benz in 1957 aangeskaf. Die Parrots het my altyd vriendelik ontvang.

Nico, linkshandig, het ʼn Parker vulpen gehad wat ek begeer het. Die situasie het ʼn blywende indruk op my gemaak en die statussimbole sou vir baie jare sterk motiverend vir my wees.

In ʼn gespek met Nico 52 jaar later, was hy verstom dat ek die binnekant van die huis, ameublement en selfs porseleinware in detail kon beskryf. Die beste onthou is egter dat ek as arm kind gelykwaardig behandel is en dit het beslis bygedra tot my eie lewenssieninge.

Die Waverenhuis was n koshuis waar dogters uit gebroke omstandighede ʼn tuiste gevind het. Ek het besondere aanklank by van die kinders gevind en van hulle was my beste klasmaats, hoewel ek niemand se persoonlike omstandighede geken het nie. Ek glo dat die beginsel van deernis met mense hier deeglik vasgelê is.

Die Engelsonderwyser, Mnr J M Potgieter (Oom Pottie), kon leer in ʼn fees omskep met sy aanbiedings en meelewing van veral Shakespeare se werke. Hy het my twee gunste bewys deur my te vra om iemand met sy Engels te help – dit het nie juis veel gehelp nie – en die raad om goeie boeke te lees.

Enkele rolmodelle in meer senior klasse, was Louisa Uys, ʼn briljante student en wiskundige wat gereeld vir my voorgehou is om na te volg, Annette Theron, ʼn intelligente witkop dogter van die skryfster Miemie-Louw Theron en Johan Viljoen, wat sy christenskap onbeskaamd uitgeleef het en later in dieselfde woonbuurt as ek sou woon.

Lesse van my pa

My pa was ʼn hardwerkende man, hoogs intelligent, maar met min formele skoling. Baie teenslae het hom getref, maar hy het altyd geglo dat môre nuwe geleenthede sou bring

Hy was ʼn baasstorieverteller vir my kinders. Ek eer hom vir die lewenslesse wat hy by my tuisgebring het en waarvoor ek die insig gehad het om na te volg.

Ek het gereeld saam met hom Saterdae op Tulbagh met groente gesmous. Die maatemmer, ʼn 8 lb blik, is altyd styf volgemaak en dan nog ʼn ekstra handvol bo-op.

By navraag is die rede gegee dat dit reg is so. Ek kon hierdie les lewenslank met my saamneem.

Dit was egter veral op die gebied van geldsake waar hy ʼn blywende invloed gelaat het wat ek bly volg het.

Hy het dit duidelik gestel dat ʼn mens nie op skuld koop nie, behalwe die huis waarin jy woon; vir niemand borg teken nie; jou hande van ander se goed hou; nie neersien op ander nie; wanneer jy vir iemand werk dit met oorgawe doen en dat jy moet leer, want kennis kan niemand van jou wegneem nie. Ook dat jy ʼn oop hand moet hê as jy beter af is as ander.

Ek het hierdie voorskrifte met volle oorgawe geleef en was nog nooit spyt daaroor nie.

 WERKSLOOPBAAN

 

 Aflaai op Tulbaghweg

Ek het aan die einde van 1960 op sewentien in die eerste klas gematrikuleer met die voorneme om siviele ingenieurswese te Stellenbosch te gaan studeer.

Die nodige reëlings was in plek.

Die geldelike werklikhede en my jong ouderdom het daartoe gelei dat ek besluit het om eerder vir ʼn tyd te werk en intussen deeltyds te studeer.

Na onderhoude in Kaapstad by die Meesterskantoor, Ou Mutual en Sanlam, het ek ʼn aanstelling as klerk by Sanlam Hoofkantoor in Bellville aanvaar, met inwoning in die hostel langsaan.

 ʼn Besondere ervaring het my te beurt geval toe ek by Bellvillestasie afklim vir die onderhoud by Sanlam. Ek het geen idee gehad waar dit is nie en ook nie geld vir ʼn huurmotor nie. Ek vra toe ʼn vrou wat besig is om in haar motor te klim. Sy noem dat sy daar verbyry en my sal saamneem. Sy vra wat ek daar gaan maak. Ek noem dat ek werk soek. Sy vertel dat sy die suster van Matie Swart, personeelbestuurder van Sanlam, is en dat ek vir hom moet vra, en sê sy suster sê hy moet vir my werk gee.

Dit het nie so verloop nie, maar ek het wel die betrekking gekry. Dit is egter een van talle toevallighede in my lewe wat min met toevalligheid te make het.

My pa het my op Dinsdag, 31 Januarie 1961 in Tulbaghweg afgelaai om per trein na Bellville en ʼn nuwe begin, te reis.

My pa het my gegroet met woorde wat min of meer daarop neerkom dat wat hy vir my kon doen het hy en dat hy weet ek sal my ideale verwesenlik. Toe die trein trek, het die uitdrukking om op eie bene te staan, vir my praktiese werklikheid geword.

Piet Groblerhuis, Sanlamhof, Bellville

Ek het met my tas van Bellvillestasie af gestap en die middag van 31 Januarie 1961 by die hostel opgedaag, waar die huisouers my verwelkom het en kamer 222, wat my tuiste vir ses en ʼn half jaar sou wees, aan my toegewys.

Jannie du Plessis van Wepener was reeds daar as my kamermaat. Deur die venster wat op die binnehof uitgekyk het, was daar twee motors geparkeer. Die hostel was modern met ingeboude meubels in die kamers en ruim badkamergeriewe. Die beskikbaarheid van elektrisiteit was ʼn nuutjie. So ook drie etes per dag. Daar was ʼn groot aantal jong mense gehuisves – mans en dames apart. Die seniors het ontvangsdiens gedoen, ʼn snoepie bedryf en telefoonoproepe na die naaste punt aan jou kamer in die gange deurgeskakel. Dit was ʼn atmosfeer om maklik vriende te maak. Die groot sitkamer met ʼn klavier was ʼn aangename bymekaarkomplek. Ek het veilig en tuis gevoel met ʼn mate van opwinding oor ʼn moontlike loopbaan wat die volgende dag sou begin.

Sanlam Hoofkantoor

Afdeling Polisvoorskotte

Op Woensdag, 1 Februarie 1961 het ʼn groot aantal nuwe werkers bymekaargekom vir ʼn inlywingspraatjie. Daarna is elkeen na die onderskeie afdelings geneem en aan die hoofklerk voorgestel. Ek is aan die afdeling polisvoorskotte toegewys waar berekenings van poliswaardes en premie- en leningskuld gedoen is en dit was nog in die tydperk voor rekenarisasie.

Daar was ruim 50 werkers in die afdeling en ek was die jongste. My eerste gewaarwording was dat dit moeilik sou wees om die name van elkeen te ken. Dit het my ook dadelik opgeval dat daar talle ouer persone is en laat wonder hoe lank dit sal neem om ʼn hoofklerk te word. Ek het besef dat om verder te studeer noodsaaklik is.

Ek is aangestel teen ʼn salaris van £34 per maand wat op 14 Februarie 1961 gedesimaliseer is en my eerste salaris op R68 te staan gebring het. Na aftrekking van my losies, belasting en maatskappykostes, sou ek ongeveer R30  netto ontvang. Vooraf het ek reeds besluit om maandeliks R20 by die poskantoor te spaar en ʼn naweek retoertreinkaartjie, een keer per maand het R1-50 gekos. Gelukkig het ons reeds in die eerste maand oortyd begin werk en sou ek die volgende maand meer geld uitkry. Ek het gou tot die gevolgtrekking gekom dat ek hard sal moet werk, studeer en spaar as ek wil vordering maak.

Unisa studie

Ek het vir ʼn B.Comm Algemeen graad by Unisa geregistreer vir voltooiing in 3 jaar en lesings van Rapid Results College ontvang.  Eerstens het ek geen kennis van handelsvakke gehad nie, die gekose studietydperk was onrealisties en met die eksamen het ek vasgestel dat die lesings selde toepaslik was.

My gesondheid is spoedig aangetas (spastiese kolon) en my drome het skielik onrealisties gelyk. Gelukkig het ek goed presteer in die werk en ʼn verhoging van R10 reeds in Oktober 1961 gekry. Met die Desembervakansie besluit ek om eerder ʼn onderwyser te word en skryf in vir BA Sielkunde en Geskiedenis met enkele kredietvakke soos Afrikaans, Engels en Ekonomie. Dit sou lei tot ʼn graad wat weinig betekenis in Sanlam sou inhou, maar het wel ʼn geleentheid gebied om in werkstudie opgelei te word en dit as ʼn loopbaan te beoefen, wat later jare deure sou oopmaak. Studie was dus betekenisvol en die rigting eintlik nie deurslaggewend nie.

Ontmoeting van my latere vrou

My studies het min vrye tyd toegelaat. Iewers in 1963 ontmoet ek Bessie van kamer 241 en ʼn verhouding ontstaan. 1964 koop ek ʼn nuwe Anglia vir R1 236 kontant by Marais Motors in Bellville – die kwitansie is steeds in veilige bewaring – en kon ons gereeld familie besoek en ritte in die Skiereiland onderneem.

My ouers verlaat Tulbagh en vestig hulle op Porterville. Bessie se Ma het in die Paarl gewoon en gewerk. Ons raak in 1965 verloof en besluit om middel 1966 te trou. Albei het steeds bly woon in die hostel by Sanlam. In ons vroegtwintigs was dit ʼn belangrike besluit wat tot ewige trou sou lei van 53 jaar tot met 2019, haar sterfjaar.

Troudag,11 Junie 1966

Die dag was ʼn tipiese Kaapse wintersdag  met baie reën toe Hannes Visser met sy oom se Valiant by Vredelust NG Kerk opdaag vir die huweliksbevestiging deur Dr Gideon Kotze.

Fred Jooste van Die Burger was die fotograaf en het sy huis beskikbaar gestel.

Die onthaal was in die destydse Boston Hotel waar ons ʼn lokaal gehuur het teen R15 en self die spyseniering vir ʼn paar familielede, kollegas en vriende gedoen het. Bessie het pragtig gelyk en die vertrekklere wat spesiaal gemaak is, het die dag verder opgehelder.

Ons wittebrood het begin en die Anglia sou ons langs die tuinroete na Durban neem vir ʼn hotelverblyf en daarna na haar familie in Johannesburg en Pretoria. Foto’s van die gebeure herinner my gereeld aan besluite wat ons geneem het en hoe dit die grondslag was vir die goeie en minder goeie op ons lewenspad wat net in gedeelde krag volhoubaar sou wees.

Losieshuis, McIntyrestraat, Parow

Omdat Bessie bly werk het en vir geldelike oorwegings, het ons besluit om te loseer. Die losieshuis het ʼn ruim kamer met ʼn klein kombuisie gehad en ontbyt en aandete ingesluit met toebroodjies vir middagete. Ek is na die werkstudie-afdeling by Sanlam oorgeplaas en Bessie het vir die bemarkingsbestuurder –Opleiding – handleidings saamgestel.

Ek het vir Honneurs Sielkunde by Unisa geregistreer en in die kombuisie studeer. Op ʼn dag ontmoet Bessie ʼn neef wat daar naby woon en kom stel hom bekend. Pieter en Rina van der Westhuysen is kort voor ons getroud en het ons lewe binnegeval, onafskeidbaar tot datum. Pieter is 24 Oktober 2020 oorlede.

As getroude amptenaar van Sanlam kon ek ʼn erf koop te Rembrandtlaan 16, Delahaye, Bellville met ʼn verband. Dit sou later blyk ʼn uitstekende besluit te wees om vroeg in jou lewe eiendom te bekom.

Gedurende Junie 1967 toer ons en Hannes en Marietjie Visser, Bessie se niggie, na Suid-Wes-Afrika tot by die Etosha wildtuin en dit bly ʼn onvergeetlike gebeurtenis met baie staaltjies. Ons eerste huweliksherdenking vind op Otjiwarongo in ʼn restaurant plaas.

Stadsraad Kaapstad

As getroude man met ambisie en planne vir ʼn gesin het die loopbaanpad by Sanlam met my studierigting minder rooskleurig gelyk. Op 1 September 1967 word ek die eerste werkstudie-aanstelling by die Stadsraad van Kaapstad met ʼn aansienlike verhoging in salaris. Die blootstelling en latere voltooiing van BA Honneurs in Bedryfsielkunde was ʼn baie positiewe loopbaanbesluit.

Die losieshuis word verkoop en ons moes dringend verblyf vind. Die buurman van die erf in Delahaye, ʼn bouer, het ook ʼn blok woonstelle (Lubbaniahof) in Vleistraat, Bellville besit en ons het daar ʼn pragtige tweeslaapkamerwoonstel gehuur naby Sanlam en binne loopafstand na Bellvillestasie, gerieflik vir my om die trein te haal. Die sameloop van omstandighede kon nie toeval gewees het nie.

Woonstel, Lubbaniahof 9, Bellville

Ons kon die woonstel mooi meubileer en nuwe toestelle koop as ons eerste eie tuiste saam. Ek het die tweede kamer as studeerkamer gebruik, wat ook ʼn wonderlike eerste ervaring vir my was.

Ons kon ʼn gesin beplan en die wonder van ʼn eerste kind, Mardene, se geboorte het op Woensdag 28 Augustus 1968 te Pinelands aangebreek. ʼn Dogter met haar ma se rooi hare en ʼn nuwe dimensie in ons lewe begin. Die van der Westhuysenfamilie sou gereelde besoekers wees, onder andere die aand met die aardbewing in Tulbagh en Ceres in 1969 toe ek van angs vir Mardene uit haar bedjie gegryp en die trappe af na buite gehardloop het. Hierdie ongekende vreugde en met Bessie as moeder tuis, is in my geheue ingraveer.

Ons het begin droom van ʼn eie huis op die erf in Delahaye, maar die Stadsraad Kaapstad het nie huisvoordele gehad nie. Teen die einde van 1969 vind daar bestuursskuiwe by Sanlam plaas en word groter klem op stelsels en werkstudie geplaas. Ek ontvang ʼn aanbod van Sanlam om deel van die planne te word met aantreklike byvoordele wat ʼn verbandsubsidie insluit. Op 1 Februarie 1970 sluit ek weer by Sanlam Hoofkantoor aan en begin dadelik beplan om ʼn woonhuis te laat bou.

Sanlam Hoofkantoor,1970 – 1986

My ervaring het goed te pas gekom en so ook toepaslike M-studie waarmee ek besig was. Van 1 Oktober 1970 af is ek bevorder en in beheer van die afdeling

Werkstudie geplaas. Intussen het die huisbouery goed gevorder en kon ons aan die begin van Desember 1970 in ons eie woonhuis intrek. Dit was ʼn ruim huis met ʼn groot tuin wat deur Hester Fourie van Pronktuin faam, ontwerp is. Dit was ʼn besondere voorreg om op ouderdom 27 ʼn eie huis te besit.

Ons het nuwe vriende in die woonbuurt gemaak waarvan enkele gesinne nog deel van ons lewe uitmaak. Steve, ʼn kollega en Suzie Groenewald het oorkant die NG Kerk gewoon en was ʼn gereelde besoekpunt na kerk. Ek en Suzie deel veral belangstelling in plante en binneversiering.

Hennie en Alta Struwig het naby ons gewoon en ʼn hegte vriendskap het ontstaan. Alta het as kind polio gehad en skoene van verskillende groottes gedra. Een dag in Adderleystraat, Kaapstad sien sy ʼn dame met dieselfde, maar net omgekeerde, probleem en vir jare kon hulle mekaar help by die aankoop van nuwe skoene. Alta kon baie praat, maar het nooit ʼn negatiewe woord oor ander gesê nie.

CP en Sophia du Toit wie se dogter Carina, saam met Mardene in die klas was, het in Kleinmond afgetree en ons het nog skakeling. Betrokkenheid by die kerk en skool met gemeenskapsdiens het my met verskeie inwoners in aanraking gebring en die verblyf daar was aangenaam.

Op 1 Maart 1971 is ek bevorder in ʼn bestuurspos wat ʼn maatskappymotor ingesluit het en tot die aankoop van ʼn nuwe Peugeot 404 gelei het.

Op Vrydag17 September 1971 is Surita in die Louis Leipoldt hospitaal in Bellville gebore. Dit was ʼn nuwe hoogtepunt in ons lewe en het groot vreugde gebring.

In Desember 1971 hou my swaer en Bessie se suster ʼn seevakansie te Brenton-on-Lake naby Knysna en ons huur ook ʼn rondawel daar. Op pad terug huis toe bly ons ʼn kort tydjie by die van der Westhuysenfamilie by die SAOU-strandoord waar hulle kort tevore ʼn strandhuis gekoop het. Dit sou daarna ons vaste vakansieverblyf word tot 1993 toe ons ʼn eie strandhuis naby hulle gebou het. Elke nou en dan kom nostalgie na vore. Ons gesin sou heerlike vakansies daar deurbring.

Gedurende 1972 ken Unisa die MA-graad (Bedryfsielkunde) aan my toe. Dit verwesenlik ʼn lang gekoesterde ideaal.

Mardene gaan aan die begin van 1974 na die Laerskool, Excelsior en is vroeg as begaafd beskou.

Teen die middel van die jaar is ek met ʼn aangebore nierdefek gediagnoseer.

Ek is van 1 Oktober 1974 tot assistantbestuurder bevorder.

ʼn Gedeeltelike nierverwydering is in Junie 1975 gedoen. Dit was traumaties omdat ek gedink het dit sou my lewensgehalte en -duur aansienllik inkort. Dit was egter nie die geval nie.

Die 30 Junie 1975 uitgawe van Business week met die titel Office of the future het ʼn visie by my laat ontstaan oor hoe die Sanlam opset tegnologies vorentoe moet uitsien. Ek het ʼn konseptuele raamwerk saamgestel en ywerig steun gewerf, maar met min sukses.

Dr Fred du Plessis het die leisels by Sanlam oorgeneem, snelle groei voorgestaan en die siening gehad dat tegnologie dit kon help bereik. Met sy steun is in 1976 goedkeuring verleen dat ek ʼn proefinstallasie van woordverwerkingstoerusting kon instel op grond van navorsing oorsee wat vir Februarie 1977 beplan is. Dit was ʼn groot ideaal wat waar geword het.

Die geleentheid is byna gekelder toe ek teen einde 1976 met sarkoidose van die longe gediagnoseer is en intensiewe lang termyn behandeling moes ontvang. Die begeerte en geleentheid was egter te groot en ek kon nog ʼn jeugdroom om oorsee te reis, verwesenlik. Dit is in Augustus 1977 herhaal en het daarna gereeld gebeur. Die eerste teksverwerkingstelsel wat ʼn hoofrekenaar met ʼn minirekenaar met skermterminale en ʼn fotosetter verbind het ʼn werklikheid geword en wye belangstelling plaaslik en oorsee ontlok.

Surita begin haar skoolloopbaan in 1978 by Laerskool Excelsior en toon dadelik ʼn aanleg vir verskeie sportsoorte, het ʼn groot voorkeur vir maats en is intelligent genoeg om met min werk goed genoeg te presteer. Bessie wou graag weer na die arbeidsmark terugkeer met ʼn voorkeur vir skoolsekretaresse wat werkure sou hê om tuis te wees as die kinders tuiskom. Dit was ʼn goeie bedeling vir almal. Sy het by Westcliffskool in Bellvile diens aanvaar.

Tydens ʼn sakebesoek oorsee in 1979 kon Bessie dit meemaak. Ons kinders is aan die goeie sorg van Hennie en Alta Struwig toevertrou. Ons het goeie herinneringe aan Engeland, Duitsland en Switserland. Bessie het London geniet oor die taal, boekwinkels en teater. Hoogtepunte was ook ʼn besoek aan van die hoogste bergpieke in Switserland.

In 1979 ontstaan ʼn geleentheid om op versoek van ʼn bekende uitgewer in die VSA ʼn boek te publiseer met die tegnologiese raamwerk  – Integrated Office Information Systems – wat ek as basis vir Sanlam geskep het, as tema. Met die opstel van die raamwerk vir die boek besef ek dat dit eintlik die rapportering van nuwe navorsing behels en kom die droom van ʼn doktorsgraad na vore. Die Universiteit van Kaapstad het groot belangstelling getoon. Op 1 Oktober 1980 en 37 jaar oud, word ek tot bestuurder by Sanlam bevorder. Kort daarna het ek my proefskrif ingedien. Dit het gelei tot ʼn besondere persoonlike hoogtepunt in 1981 toe die P.hD-graad aan my toegeken is en wye media blootstelling plaaslik en oorsee geniet het. By die geleentheid het ʼn vriend ʼn goue Parker vulpen aan my oorhandig …

Die periode 1981-1983 het gewentel om die instelling van tegnologie landswyd by Sanlam kantore, talle oorsese besoeke, tydskrifartikels en die toespreek van seminare.

Mardene het die einde van 1981 haar laerskool bywoning afgesluit en begin 1982 by Hoërskool Bellville. Sy het akademies goed presteer en besondere aanleg vir Afrikaans en kuns getoon.

Aan die begin van 1984 was Jaco Cloete, seun van kollega Japie en tydgenoot van Mardene, in ʼn duikongeluk wat hom aan ʼn rolstoel sou kluister. Die gebeure het’n lewenslange invloed en besondere deernis by ons gesin gebring.  Ongeveer dieselfde tyd het Mardene se skryfwerk en kuns begin aandag trek en is onder andere in Poort gepubliseer. Die opstel Die gesig in die spieël – vir Jaco gee ʼn gevoel van haar ervaring van die trauma in Jaco se lewe. Sy het beplan om in Kuns en Afrikaans Stellenbosch universiteit te studeer. Mardene se skoolloopbaan was vir ons ʼn vreugde.

Aan die begin van 1985 is Surita na Bellville Hoërskool. Ongeveer Junie 1985 het ek ʼn retinale loslating in my regteroog gehad, en die operasies was ʼn mindere sukses. Met toe oë het my lewe tot daardie stadium herhaaldelik afgespeel.

Teenstrydig met ʼn situasie van ʼn suksesvolle loopbaan en gesinslewe op ouderdom 43 ontstaan die hunkering na ʼn radikale verandering waar ek nie deel van ʼn groot maatskappy is nie, maar ʼn direkte invloed op besluite kan hê.

Pretoria 1986-1989

 

Infotech-groep

ʼn Aantreklike aanbod as hoofbestuurder van ʼn Trust wat inligtingskonsultasie doen en verder as Trustee van ʼn Trust vir koninkrykuitbreiding en direkteur van ʼn rekenaarmaatskappy in Pretoria, lei tot aanvaarding op 1 September 1986. Dit was ʼn ingrypende ervaring vir my en my gesin. Mardene was in Matriek en Bessie en die kinders het in Bellville agtergebly tot die einde van die jaar. Ek het in ʼn woonstel in Sunnyside, Pretoria gebly, waarna ons ʼn huurhuis in Lynnwoodrif sou betrek.

Op 25 Augustus 1986 het ek my ma en die res van die gesin op Riebeek- Kasteel gaan groet. Dit was ʼn moeilike afskeid, want daar was gereelde kontak tussen ons. Die volgende oggend moes ek verneem dat my ma die vorige aand oorlede is. Ek het daardie Saterdag na Pretoria vertrek op ʼn rit met baie kwelvrae en soms voel dit nog vir my of ek steeds met die rit besig is.

Die kinders was emosioneel geraak met Mardene ingeskryf by RAU vir Kommunikasiekunde en Afrikaans en Surita in ʼn nuwe skool (Hoërskool Wilgers) met geen vriende nie.

Bessie moes nuwe verbintenisse aanknoop. Sy het in 1987 ʼn Ryntoer onderneem en onder andere in Nederland by twee gasgesinne tuisgegaan. Met een van die gesinne het ons steeds skakeling. Dit was ʼn besondere ervaring vir haar. Ek het in ʼn veeleisende beroep gestaan – klein maatskappy met groot verantwoordelikhede en finansiële risiko’s. Elkeen se aanpassing was uniek en moeilik en by nabetragting was die prys van loopbaansukses dalk veels te hoog. Die antwoord sal my bly ontwyk.

Die jaar 1988 het hoë eise aan my gestel. Teen Augustus het ek en Bessie deel uitgemaak van ʼn presteerdersgroep van die maatskappy en ʼn week op Mauritius deurgebring. Die gedagte het by my opgekom dat ek ʼn verkeerde loopbaankeuse gemaak het ongeag die sigbare sukses wat ek behaal het.

Technicare 1989

Veranderende persoonlike omstandighede, soos veral die feit dat Mardene aan depressie gelei het, en verskille in bestuursstyl tussen my en die aandeelhouer het aan die begin van 1989 –ek was 45 jaar oud – ʼn punt bereik waar ek moes besin oor die toekoms. ʼn Geleentheid vir rekenaarinstandhouding binne die maatskappyegroep het ontstaan en op 1 Julie 1989 word Technicare gestig met my as besturende direkteur en minderheidsaandeelhouer. Dit sou groter outonomie bring en werksverhoudinge bevorder, maar ook groter druk op my plaas. Ek kon nooit uitsluitsel kry oor die teenstelling van ʼn besondere loopbaandoelwit bereik, en die prys daarvan nie.

Alles kom tot niks sê die Prediker. Dit het op 18 Oktober 1989 gebeur met die dood van Mardene. Op daardie dag het al die gebeure wat hierbo opgeteken is tot niks verander, en die begrip toekoms ophou bestaan. Selfverwyt oor oningeligdheid oor depressie, veel meer aandag aan ʼn ander man se belange, ten koste van die belangrikste waardes in my lewe, uitsigloosheid oor die pad vorentoe en Surita wat voorberei het vir die Matriekeksamen was enkele van die kwelvrae.

Dringende besluite oor waarheen, Kaapstad of George, oor begrafnis, waar en hoe, het tot verassing gelei – iets wat nooit voorheen oorweeg sou word nie. My geloofslewe het in die proses gesteier en drome is verpletter.

Ek verloor alle vertroue in die regsproses deurdat patologiese monsters wegraak; oorsaak van dood nie bepaal kan word nie; die doodsertifikaat verander word; die politieke gesag in die land volle vertroue in die deeglikheid van hulle stelsels het en ek die bestel moet vertrou. Ek het die houer van ʼn dossier van onreg geword.

Die dood stop nie die klok nie. In 1990 begin Surita haar studies in die regte aan die Universiteit van Pretoria. Sy het nie op skool akademies tot haar volle potensiaal presteer nie en die onderwyspersoneel het dikwels onregverdiglik vergelykings tussen haar en haar suster getref. Sy sou dadelik op ʼn hoë vlak presteer op universiteit en daar was groot sekerheid dat sy die regte beroep gekies het.

Van 1990 af is die Mardene Marais gedenkbeurse vir skeppende Afrikaans aan RAU ingestel. Dit het ʼn besondere gevoel van erkenning aan haar leermeesters Johann Johl en Rika Cilliers gegee en ʼn poging om ander in die taal aan te spoor.

 Ek het my fokus op die werk geplaas as ʼn ontvlugtingsmeganisme en die maatskappy het goed presteer. In 1991 is die Most Admired Company Award aan ons toegeken deur Business Day – ʼn besondere prestasie wat ek lank sal onthou.

Intussen sou ek as deel van die rouproses deur geskrifte van Mardene werk om ʼn klein publikasie vir familie en vriende wat daarom gevra het, te doen. Dit het gelei tot die boekie Woordpalet met gedigte en poëtiese prosa in 1992. Die publikasie sou my eie insig oor my dogter verbreed as iemand wat steeds ʼn stem het vir deernis, skeppende Afrikaans en onwrikbare geloof wat gehoor moet word.

Gedurende Mei 1992 word ek deur die maatskappy afgevaardig om ʼn konferensie in Frankryk by te woon. Bessie vergesel my en ons beplan ʼn treinvakansie deur Europa. Toe die SAL vlug in Johannesburg opstyg ervaar ek las van my linkeroog.  Met aankoms in Parys is ek na die na-uurse fasiliteite van die Nasionale Ooghospitaal. Daar het ek etlike dae deurgebring en is ʼn operasie vir die hegting van die retina uitgevoer. Dit was ʼn skok, gegewe die beperkte sig in my ander oog. Die beloofde vakansie het in ʼn nagmerrie vir Bessie ontaard want sy moes al die bagasie hanteer en ons moes terugkom sonder enige besigtigingstoere. Bessie sou seker hierdie oorsese besoek beter as enige ander onthou.

Skakeling met verskeie kunstenaars, lei my na Vader Frans Claerhout, wat die beeldgedigte Kromdraai gepubliseer het. Die kopie van Woordpalet wat ek aan hom geskenk het, het hy teruggestuur met talle illustrasies. Dit is daarna opgevolg met talle tekeninge ter uitbeelding van geskrifte van Mardene. My ontmoeting en verbintenis met Vader Claerhout was ʼn besondere lewenservaring.

Ontmoeting van Jopie Koen, medestigter van Die Woordgilde en betrokke by die Teaterhuisie van Karel Trichardt en Petru Wessels, was bevorderlik vir die ondersteuning van hulle aktiwiteite in die gees en aanklank vind by aspekte wat Mardene sou interesseer. Hierdie verbintenisse is blywend.

In 1993 bring ek besoek aan Nederland as deel van navorsing oorsee oor tegnologiese ontwikkeling. Die maatskappy Getronics maak ʼn groot indruk op my en lei tot ʼn inligtingsuitruilooreenkoms wat personeel wedersydse blootstelling gee. Amsterdam sou daarna ʼn gereelde besoekpunt word.

Ons lewens volg die tyd. Surita kwalifiseer met besondere prestasies as prokureur en begin in 1995 werk, Bessie help by ʼn kleuterskool en ek plaas my volle gewig in my werk. Die verkoop van die maatskappy teen middel 1998 en ek 55 jaar oud, sonder inagneming van, of beskerming van, my belange, het ʼn wrang smaak gelaat en ek het op 1 Oktober bedank met drie maande kennis  en een jaar (1999) handelsbeperking. Hierdie gebeurtenis sal in lewe onuitwisbaar my bybly.

Handelsbeperking 1999

Die handelsbeperkingsjaar (1999) het met ʼn vaste voorneme begin om in ʼn mededingende posisie terug te keer tot die sakesektor. Daar was baie onverwerkte agressie.

Teen die laaste kwartaal van die jaar het ek besluite geneem dat ek nie weer voltyds sal werk nie en nie met enigeen in vennootskap sal tree nie. Die pad vorentoe sou bestaan uit ʼn inligtingskonsultasie maatskappy – Innotrade – waarvan ek die enigste vaste lid sal wees en ʼn liefdadigheidstrust, nl Cordis Trust, te stig en befonds met die leuse Uit die hart ter gedagtenis aan my dogter Mardene, om deerniswerk te doen, skeppende Afrikaans te bevorder en christelike projekte te ondersteun. Hierdie besluite was rigtinggewend vorentoe.

Teen die einde van 1999 koop ek ʼn eiendom te Parkstraat 755, Arcadia met die oog op restourasie om te dien as hoofkantoor vir Innotrade en Cordis Trust. My eie betrokkenheid in die fisiese opknapping van die gebou en die eise wat dit gestel het, is ʼn publikasie op sy eie werd.

Lewe na aftrede

Tydens die jaarlikse seevakansie te Dwarswegstrand, Groot Brakrivier was daar ʼn kunsmark op Glentana. Een van die organiseerders en jarelange vriendin, Hannatjie Claassen, verneem van my voornemens met Cordis Trust en sê dat ek Myra Lochner by die kunsmark moet ontmoet want sy sal presies inpas by wat ek beoog.

Die ontmoeting, met digkaarte van Myra in my hand, sou die begin wees van ʼn geesgenootskap en uitlewing van die Cordis-uitgangspunt op ʼn vlak wat moeilik in woorde omgesit kan word. Die skeppende werk van Myra deur haar Kreativ SA het soveel aanvoeling en sinergie, dat dit Cordis se trefkrag versterk en dat ons gemeenskaplike doelwitte kan behaal wat nie afsonderlik moontlik sal wees nie. Myra is vir my ʼn voorbeeld van iemand wat leef wat sy glo en my ten volle ondersteun.

Die jaar 2000 breek aan met ʼn nuwe lewe vir my opgesluit in Innotrade en Cordis Trust. Ek is opgewonde om dinge te laat gebeur. Een van die eerste Cordis Trust projekte was toenadering tot RAU vir die instelling van toekennings vir debuutwerk in Afrikaans. Dit het gelei tot die RAU/Mardene Maraisprys (R10 000), wat sedert 2001 toegeken is. Dit is wyd aangeprys as ʼn geleentheid vir jong skrywers en digters in Afrikaans.

Ons besluit in 2002 om na ʼn veilige woonplek te verhuis. Ek koop ʼn erf in Silver Lakes, Pretoria en beplan ʼn huis. Ons het op 1 November 2002 daarheen verhuis en Surita het ons vorige huis betrek. Dit sou ʼn veilige lewensstyl en ʼn aangename omgewing bring.

Op pad na ons jaarlikse vakansiebestemmimg naby Groot-Brakrivier, op 13 Desember 2003 verneem ons dat my ongetroude broer Pieter ernstig siek in die hospitaal op Ladismith is. Ek het dieselfde aand daarheen vertrek en hy is vroeg die volgende oggend oorlede. Hy is veras en sy oorskot vorm deel van my ouers se graf te Riebeek-Wes.

Teenstrydig met my lewensstyl en gesondheid is ek met ʼn hartdefek gediagnoseer einde 2006. ʼn Hartomleiding is op 31 Januarie 2007 met groot sukses gedoen en het geen noemenswaardige invloed op my lewensgehalte gehad nie.

My broer Willem is op 6 September 2008 tydens ʼn naweekbesoek aan Langebaan aan ʼn hartaanval oorlede en te Kuilsrivier begrawe.

Surita is gedurende 2008 getroud en die hoop het bestaan dat ons kleinkinders sou hê. Marais Duvenage is op 20 April 2009 gebore en het ons lewens ingrypend verander.

My swaer, Thys Walters en enigste suster, Susan het teen die einde van 2008 hulle huis in Riebeek-Kasteel en ons grootwordhuis, verlaat vir ʼn aftree-oord op Piketberg. Thys is op 14 Junie 2010 aan ʼn beroerte oorlede en sal deur almal wat hom geken het, onthou word as mens en vriend.

Gedurende 2010 het Cordis Trust ʼn behoefte raakgesien om erkenning aan skrywers en digters in Afrikaans te gee. Die RAU verbintenis het in 2004 ten einde gekom. Gedurende Oktober 2010 is die Orde van die Goue Pen- toekenning aan twaalf persone gedoen vir hulle taalbydrae. Dit was van besondere betekenis vir my en ʼn herinnering aan die talente van ʼn gestorwe dogter.

Marais kry ʼn boetie Xandre, op 21 Desember 2010 en ons vreugde ken geen perke nie. Die gesin woon loopafstand van ons en is byna daagliks deel van ons lewe.

Op 6 Januarie 2011 ontmoet ek Nini Bennett  wat een van die ontvangers van die RAU/Mardene Marais toekennings was. Sy het oor ʼn versameling gedigte beskik wat sy graag wou publiseer en ek het aangebied om dit deur die pas gestigte Cordis Trust Publikasies moontlik te maak. Dit was ʼn besondere mylpaal vir my in die strewe tot die bevordering van skeppende Afrikaans.

Ses weke na Xandre se geboorte word hy ernstig siek van ʼn virus en word in die hospitaal opgeneem. Die tydperk gedurende Februarie  2011 het groot druk op almal geplaas en ek het besef dat die nuwe lewens wat tot ons bygevoeg is allesoorheersend belangrik geword het. Alles het goed uitgewerk.

Gedurende Augustus 2011 onderneem Bessie en ek ʼn reis na die Oosbloklande. Behalwe ʼn hittegolf het ʼn besondere blywende ervaring ons getref. Die toer was in geheel insiggewend, maar die geskiedkundige gebeure in Berlyn, Pole en veral Auschwitz en Nuremburg, sal onvergeetlik bly. Ook die aandvaart op die Donau met skouspelagtige vuurwerk.

Die jaar 2012 het baie aandag geverg met ʼn projek vir die kies van wenners van die Orde van die Goue Pen en die toekenningsplegtighede. Die projek het ʼn groot administratiewe las gebring en talle reise en funksies nodig gemaak. Dit was vreugdevol, maar het my kragte getap. Op pad na 70 het herbesinning gevra.

My suster is op 24 Oktober 2012 op Piketberg oorlede en is daar begrawe.

Gedurende die 2012 Desember vakansie het ek las van keelseer ervaar. Behandeling vroeg in Januarie 2013 het nie gehelp nie en in Februarie is ʼn mangel met ʼn groeisel verwyder. Die bevinding dat dit kwaadaardig was sou my lewe emosioneel en fisies ingrypend verander en groot veranderinge in toekomsplanne bring. Intensiewe behandeling met radioterapie en chemoterapie van sewe weke met gevolge het gevolg. Vorentoe sou ʼn lewe van groter onsekerheid op my wag.

Soos al die dae van my lewe sal ook die oorblywendes genade onbeskryflik groot bly en elke dag groot dankbaarheid bring.

Fanie Marais, 15 November 2013