Want klippe lieg is Wynand Schoemanse debuutbundel. Hierdie kortverhaalbundel is vol verrassings – stories wat jou sal laat lag en huil.

DIE SKRYWER VERTEL

Die aand na die afsterwe van my pa sit ek en probeer sy stories onthou. Hy het baie daarvan gehou om interessante stories te vertel. Nog te meer om na stories te luister. In my hartseer sukkel ek om ‘n enkele storie te onthou. Ek begin toe om net een woord neer te skryf soos ek die stories onthou. Daardie aand, 1 Julie 2021, was ‘Smiley Face’ my eerste storie wat ek op Facebook geplaas het. Twee dae later moes ek Pa gaan begrawe het.

Dit was egter nie my eerste storie nie. ‘n Paar jaar gelede was Pa besig om op Wilgerkloof sy kantoor uit te sorteer en reg te pak. ‘n Taak wat hy elke drie maande moes aanpak. Eerstens omdat Ma aangedring het daarop dat hy sy deurmekaar kantoor moes regruk en tweedens omdat hy altyd doenig geraak het met iets anders wat hy onder al sy papiere en gemors ontdek het.

Tydens die pakkery het ek op ‘n skoenboks vol briewe afgekom. Briewe tussen hom en sy ouers tussen 1968 en 1969 toe hy Veeartsenykunde studeer het op Tukkies. Die briewe het vertel oor die reën, die nuwe bul wat Oupa gekoop het, Ouma se hoenders en die eiervanger wat sy in die hoenderhok met kookwater gegooi het. Nuus oor oom Hendrik en Oupa Fritz en hulle suster, tannie Poppie. Handgeskrewe briewe met eenvoudige persoonlike inligting wat die tyd vasgevang en bewaar het. Dit begin met ‘n ‘Hoe gaan dit met jou’ en eindig met ‘Vele liefde en sien binnekort’.

Die briewe het aan my sentimentele hart getokkel, soveel so dat ek besluit het om vir Pa ook briewe te stuur, want ons het net gebel en ge-sms. Later BBM ons en tot op sy laaste Whatsapp ons mekaar. Maar ons het nie meer briewe geskryf wat ons in ‘n skoenboks onder die lessenaar kon bêre nie. Ons het nie meer tyd in ‘n laai gebêre nie.

In 2009 het ek een keer per maand vir Pa ‘n storie per pos aangestuur. Net vir hom. Ons stories. Ek weet Pa het alles gebêre, maar ek soek nog daardie boks vol van my ou stories. Hopelik kry ek hulle eendag.

In 2012 het SA Posdiens die rooi posbus oorkant my huis weggevat en ek het opgehou om vir Pa stories te stuur. Ons het egter gereeld vir ure en ure oor die foon gesels. Wanneer ek laataand op die pad was êrens heen vir werk, sou ek Pa bel en sê: “Pa, gesels met my. Ek raak lomerig.”

Dan sou Pa opstaan en voor in die huis gaan sit om Ma nie te pla nie. Hy sou stories vertel tot die son opkom en seker wees sy seun is veilig waar hy moes wees.

Na Pa se dood is dit die ding wat ek seker die meeste mis. Sy geselsies en sy raad en sy stories. In my hartseer begin ek net een woord op ‘n slag neerskryf om my ter herinner aan Pa se stories. Een woord wat ek gebruik om die tyd vir my kinders in ‘n boek vas te vang. Die stories volg min of meer ‘n chronologiese tydlyn, buiten vir die eerste storie. Al my stories is diep persoonlik en ek vertel dit soos ek dit onthou. Ek maak geen verskoning vir onakkurate dialoog of weergawes nie. Dis nie ‘n outobiografie nie. Dis sommer net ons stories. Al die stories is gebaseer op ware feite en mense, alhoewel ek hier en daar vrye teuels gebruik het om dit in te kleur.

Doepie is ʼn fiktiewe karakter.

Die boek was vir my ‘n eerste probeerslag om die verhouding tussen pa en seun vas te vang. Ek het ‘n onverwagse stem gevind ná Pa se dood en daaroor is ek tegelyk spyt en dankbaar. Pa sou die stories veral geniet het.

 

Alhoewel ek en Pa ‘n spesiale band gehad het, is dit nie uitsluitlik waaroor ek skryf nie. Ek en Ma en my twee susters het nou nog ‘n baie hegte band, en ons almal mis Pa ewe veel.

Die boek het vir my baie glimlagte, trane, genesing en verlange besorg. Ek is dankbaar vir elke emosie.