Gister is vandag se gewete neem die leser saam met Kevin deur sy nuwe reis. Hy het uit die besige stad na die rustige dorpie Clarence verhuis om af te tree.
Sy voorneme om net terug te sit en homself te verlustig aan die skoonheid van die natuur en elke dag op sy eie pas aan te pak, word gou kort geknip toe hy die wilde perd opsaal om ’n boek oor die dorp se geskiedenis en mense te skryf. Hy bekom ontstellende inligting oor twee babas wat in die naburige hospitaal omgeruil was. Die tragiese gebeure knaag aan hom en hy delf dieper.
Kevin ontmoet Harry met die moeilike persoonlikheid vir wie almal katvoet loop. Waarom is hy so beskermend teenoor sy broer George wat homself van ander afsonder en net wil boer?
Linda blameer alles wat met haar gebeur op Kevin – waar hy ook al is, beland sy in die moeilikheid.
Hunter, Kevin se seun trek by hom in en pas gemaklik in op die dorp. Hy help Kevin in sy soektog na die waarheid oor die omgeruilde babas. Wat hulle ontdek sou hulle nooit eens kon droom nie.