Wanneer gebeure suiwer vervulling word, is die goddelike begin daarvan reeds ewige Liefde (Karl Rahner, 1904-1984, Jesuïet). Hierdie skatkis wag om herontdek te word in die eenvoud van Weersiens verby Emmaus, ʼn kontemplatiewe rekonstruksie van die bekende Emmaus-verhaal in die Lukas-evangelie. Die hernieude blik op besinning in moderne tye is verfrissend. Geen Skrifverklaring bevredig as dit nie ook die taal van vlees en bloed praat nie. Twee dissipels uit Jesus se groter groep volgelinge kies na die kruisgebeure die hasepad Emmaus toe. Kleopas en sy mededissipel bevind hulle ontwetend in die briljante lig van die verrese Heiland. Hulle weet nie die Meester openbaar Hom soos hulle Hom sien nie, ʼn vreemdeling. Die vrae en uitsprake waarmee hulle worstel, weerspieël ook die mens se eksistensiële pyn. Die lewe is so te sê verborge kruisgebeure en vra ʼn ander soort verstaan – herkenning. Soos die verhaal ontvou, word die leser opgeneem in die mistieke onderbou en opbou na die klimaks wanneer die Emmaus-gangers die Vreemdeling herken in die breking van die Brood. Die gesprek in Weersiens verby Emmaus met Wie en Wat wag om herken te word, neem die leser hart brandende tot in die hede.