Afrikaans 100 - Amptelik: Ons vier fees!

Afrikaans as ampstaal

Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet. Kom tiekie en riel, klink ’n glasie en sê tjeers en tjorts, want op 8 Mei 2025 word daar groot partytjie gehou wanneer die mooiste taal eeufees vier. Ja, Afrikaans is hierdie jaar amptelik ’n honderd jaar oud.

Jou Afrikaans klink dalk nie soos my Afrikaans nie, maar een ding is seker: Afrikaans is ons almal s’n.

Afrikaans is reeds baie ouer as ’n honderd jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans amptelik, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.

Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap. Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat dit ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.

Die Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land sou wees, maar die nuwe Grondwet in 1925 het Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is dit, naas Engels, as amptelike taal erken.

Afrikaans het natuurlik van toeka tot nou verskeie takke gegroei en Standaardafrikaans is beslis nie die enigste taal wat gepraat of waarin daar geskep word nie. Van die beginjare se eerste Afrikaans tot Oranjerivierafrikaans, Kaapse Afrikaans en Noordelike Afrikaans. As Afrikaans ’n huis was, was daar verskeie kamers.

Die Afrikaans Amptelik 100-feesjaar het afgeskop op 8 Mei 2024 en kotiljons tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word. ’n Jaar se plesierigheid, ghoema en rieldans. ’n Jaar van gesprekke, deelname en skeppings om die taal te vier.

AFRIKAANS 100 - AMPTELIK

AFRIKAANSE WOORDKUNS – visueel uitgebeeld

Op 8 en 9 Mei 2025 hou Ns. Skrywershuis ’n kunsuitstalling in Uitenhage (nou Kariega). Kunswerke is gebaseer of Afrikaanse gedigte wat saam met die kunswerke tentoongestel sal word.

’n Verskeidenheid van spesiale wyne, gebottel met unieke wynetikette, word vir die geleentheid voorgesit saam met verversings.

Hierdie is jou glansgeleentheid om nie net kunstenaars te ontmoet nie, maar om deel te word van die vieringe van ons Moedertaal.

Die kunswerke word te koop aangebied en gesertifiseer as oorspronklike werk vir die viering van Afrikaans 100 – Amptelik. ’n Sertifikaat word uitgereik na aankope.

Meer besonderhede sal bekend gemaak word.

AFRIKAANS IN GEES – Erediens, klank en samesang

Op Moedersdag, 11 Mei 2025, vier ons ook ons Moedertaal. Alle gemeentes in Uitenhage (Kariega) sal aansluit by die NG Kerk Moedergemeente. Vir hierdie samekoms word daar sang gereël deur individue en kore, asook voorlesings van gedigte.

Ns. Skrywershuis het die liriekskrywer, Francis Grobler genader om ’n amptelike tema-liriek vir Afrikaans 100 Amptelik te dig om tydens hierdie geleentheid bekend te stel. Hierdie temalied word opgeneem deur Jo Black en op 15 Maart 2025 reeds vrygestel en amptelik op 11 Mei 2025 tydens die erediens ingewy.

Die erediens word gelei deur die afgetrede leraar, Ds. Christo Stumke.

Meer inligting sal bekend gemaak word.

AFRIKAANS 100 AMPTELIK
AFRIKAANS 100 AMPTELIK

AFRIKAANS IN DRUK

Die einde April-uitgawe van Naskrif sal ’n gedenkuitgawe wees en te koop aangebied word. Hierdie uitgawe bied ’n terugblik en nostalgiese oomblikke aangaande Afrikaans. Die doel is om deur hierdie uitgawe die herinneringe te vier van skrywers, digters, kunstenaars, ons taal en kultuur.

Meer inligting sal bekend gemaak word.



AFRIKAANS 100 - AMPTELIK