KARAKTERS EN EMOSIES:
‘n Romanse of liefdesroman moet verkieslik karaktergedrewe en emosie-gedrewe wees, eerder as gebeure-gedrewe soos ‘n spanningsroman. M.a.w. elke aksie of reaksie van jou karakter moet spruit uit wie sy is en hoe sy voel op daardie oomblik, anders skep jy kartonkarakters wat jou lesers gou sal verveel. Dis al klaar ‘n mondvol en die spasie hier is te min om werklik reg aan hierdie onderwerp te laat geskied, maar ek hoop om darem die beginkrywer te prikkel om meer hieroor te gaan nalees voordat sy haar eerste manuskrip blindelings aanpak. Die skrywer moet doodseker maak dat sy haar karakters, hul emosies en hul leefwêreld verstaan voordat sy een enkele bladsy skryf. Die eerste stap vir die skrywer is dus navorsing. Dit is nodig dat daardie spesifieke karakter wat jy beplan in die konteks wat jy vir hom skep, inpas sodat jou storie geloofwaardig sal wees.
SONDER KONFLIK IS DAAR NIE ’N STORIE NIE:
Konflik is die brandstof wat aksie en reaksie veroorsaak en die storie laat gebeur. Daar moet verandering plaasvind tydens die verloop van die verhaal, anders gaan die leser baie gou die boek neersit. In die romanse is dit die liefdesverhouding wat ontwikkel en groei. In die liefdesroman is dit die reis wat die heldin neem na ‘n ander plek in haar lewe en langs die pad groei en ontwikkel sy in die verhoudinge met die mense om haar. Dit kan nie gebeur sonder konflik nie. Hetsy dit innerlike konflik is waarmee die karakter worstel of konflik met die mense om haar en die dinge wat in haar lewe gebeur, konflik is essensieel om die storie voort te dryf. Wanneer die skrywer dus haar storie beplan, is konflik die heel belangrikste bestanddeel wat sy moet inbou. Ons verwys weereens die beginskrywer na die boeke oor die skryfkuns wat ons aanbeveel en ons vra ervare skrywers om te vertel hoe hulle te werk gaan om konflik in hul stories in te bou.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.