JOU SKRYFSTYL is die manier waarop jy jouself uitdruk. Dit ontwikkel natuurlik mettertyd. Dit vorm uit ‘n kombinasie van jou persoonlikheid, jou leeskeuses en bewuste besluit wat jy maak terwyl jy skryf. So, wat kan jy doen om jou skryfstyl te ontwikkel? Om te veel daaraan te dink kan lei tot ‘n gemanipuleerde skrywe, maar daar is basiese dinge wat jy kan doen om jou styl natuurlik te help ontwikkel.

LEES

Lees breed en lees die klassieke. Groot literatuur (van ons grootgeeste) kan jou beste onderwyser wees, maar moenie bang wees vir kontemporêre of genre-fiksie nie. Kies die werk van goeie en gewilde skrywers om te lees.

SKRYF

Daar is geen beter raad as om net soveel as moontlik te skryf nie. Moenie bekommerd wees oor publiseer nie, dit kom later. Probeer verskillende genres. Nie-fiksie en veral poësie bied ook iets om uit te leer. Moenie bekommerd wees dat wat jy skryf, sleg of verkeerd lyk nie. Skryf omdat jy daarvan hou en vertrou dat jy in jou styl sal groei. Moenie skaam wees om foute te maak nie – deur jou foute leer jy. Wees oop vir kritiek en sien dit as ʼn wyse om jouself en jou skryfstyl te verbeter.

GEBRUIK WOORDE WAT VAN NATURE NA VORE KOM

Alhoewel jy moet streef om jou woordeskat te verbeter, hou by woorde wat jy in die werklike lewe gebruik. Indien jy ‘n sekere woord gebruik om indrukwekkend te klink, kan jy dit dalk verkeerd of ‘ongemaklik’, gebruik. ʼn Leser merk baie gou wanneer jy intellektuele woorde inspan om ʼn indruk te maak. Jy hoef niemand te beïndruk nie. Jou skryfwerk moet die woorde wat jy kies, dikteer.

WEES DUIDELIK

Jou doel is om te kommunikeer. Maak seker dat elke sin so direk en eenvoudig as moontlik is. Jy wil die leesproses vir jou lesers vergemaklik sodat hulle die genot kan ervaar om verlore te raak in jou prosa of verhaal. Ongemaklike en gekompliseerde skryfwerk neem lesers uit die fiktiewe droom wat jy so hard aan werk.

VERMY CLICHÉS

Dink goed voordat jy ou clichés opper of gebruik in jou skrywe. Wees oorspronklik en skep jou eie uitdrukkings, vergelykings, humor, ens.

WEES BONDIG

Eksperimenteer met individuele sinne om te sien of hulle herverdeel kan word om minder woorde te gebruik. Byvoorbeeld: “Hy het oor die sypaadjie met die gekraakte sement na die veld geloop,” as jy eerder kan skryf: “Hy het oor die gekraakte sypaadjie na die veld geloop.” of: “Maak seker dat elke sin so direk en so eenvoudig as moontlik saamgestel word,” wanneer jy kan skryf: “Skryf elke sin so direk en eenvoudig as moontlik.”

WEES PRESIES

Duidelike, gedetailleerde skryfwerk sal jou werk tot lewe bring. Dink deeglik daaroor na om net die regte woorde vir jou beskrywings te vind. Indien nodig, doen ‘n bietjie navorsing.

GEE AANDAG AAN WOORDKEUSE

Raadpleeg jou woordeboek. ʼn Skrywer kan nie skryf sonder ʼn goeie woordeboek nie. Die HAT is enige skrywer wat sy sout werd is, se skryf-bybel.

VERMY TE VEEL DETAIL

Min is soms meer. Byvoorbeeld: Jy hoef nie in detail te beskryf wat die mense om ʼn tafel eet nie – vanaf die rys tot die boerpampoen, wie se resep dit is en hoe dit proe nie, tensy daar ʼn goeie rede voor is. Kom tot die punt. Bladsy na bladsy se beskrywing van die omgewing is onnodig. Die leser raak verveeld en verloor die draad van die storie deur onnodige feite.

BRON: Chalized (vertaal en bygevoeg)