
Wil jy graag skryf en moontlik publiseer? Wil jy graag ’n sakgeldjie verdien?
LAAT WAAI PAPEGAAI
Ons wil graag jóú storie lees! Indien jy dink ons grootmense lees nie tienerstories nie, misgis jy jou. Die wenverhaal en naaswenners sal in Naskrif geplaas word en na ses uitgawes gepubliseer word in ’n kortverhaalbundel. Dit klink mos na ’n goeie idee, nie waar nie? So, laat waai papegaai en skryf jou kortverhaal.
KAWOEP! JOU STORIE IN ’n BOEK
Maar ons gee ’n ietsie pasella – jy kan moontlik bietjie sakgeld verdien (dit klink al klaar baie beter!). Vir die wenverhaal betaal ons aan die skrywer R100.00, kawoep! in ’n rekening van jou keuse. Sodra jou verhaal in die tydskrif verskyn, betaal ons jou én jy ontvang ’n spesiale sertifikaat van Ns. Skrywershuis (Uitgewer). Sommer net so – Kawoep!
SKRYF, GEE JOU STORIE LYF
Soos met enige kompetisie het ons reëls wat moet nagekom word – dus moet jy seker maak jy volg dit noukeurig. Ons plaas ’n uitdaging in die tydskrif oor wat ons verwag en jy skryf dan die storie – so maklik soos dit.
- Jy mag deelneem as jy tussen 16 en 19 is. Ons behou die reg om ’n afskrif van jou ID-dokument aan te vra.
- Jy mag ook deelneem as jy tussen 12 en 15 is, maar dan benodig ons jou ouer(s) of voog se skriftelike toestemming.
- Jou kortverhaal moet jou eie skryfwerk wees. Jy mag nie iemand anders s’n inskryf nie en ook nie ’n verhaal kopieer en instuur nie. Dit word beskou as verbreking van die kopiereg en is wetlik strafbaar. Jy mag ook nie gebruik maak van kunsmatige intelligensie nie, ons sal dit gou kan vasstel. Ons wil jou in die skool sien, nie in die tronk nie!
- Ons verlang ook ’n profielfoto vir die tydskrif van jouself. Ons kan dit alleenlik plaas met toestemming van jou ouer(s) of voog.
- Indien jou verhaal nié in die tydskrif verskyn nie, beteken dit nie dat jou verhaal nie goed genoeg was nie. Indien daar te veel verhale ontvang word, moet ons sny weens beperkte ruimte in die tydskrif. Jy sal wel verwittig word.
- Jy kan net een storie per uitgawe stuur.
Moenie moed verloor nie, nóóit – hou aan om in te skryf. Aanhouer wen. Voor jy jou oë kan uitvee, kawoep! daar is jou storie in ’n boek.
OM IN TE SKRYF
Inskrywing is gratis. Stuur jou verhaal na info@nshuis.co.za. Merk jou e-pos as ‘KAWOEP’. Dui jou ouderdom aan, jou skool se naam en jou huidige graad, asook jou naam en van. Volg die res van die reëls soos uiteengesit. Gee jou verhaal ’n goeie titel.
ONS EERSTE UITDAGING
Kawoep is ’n woord wat ons geskep het wat blitsvinnig, fluks, supersonies, rats en hipersnel aandui. As ’n byvoeglike naamwoord beteken dit onverwags, meteens, onmiddellik, kortbondig, haastig, vinnig, skielik, ens.
Skryf ’n kortverhaal wat die woord kawoep uitbeeld en waarin die woord deur karakters gebruik word. Jy kan enige verhaal skryf, maar bly by die reëls asseblief.
WOORDTELLING nie meer as 1000 woorde nie.
SLUITINGSDATUM 1 Maart 2025.
PROFIELFOTO in goeie resolusie, in jpg-formaat.
BANKBESONDERHEDE waarin ons wengeld moet inbetaal.
