Die indeling van ouderdomsgroepe is nie in beton gegiet nie, maar in die algemeen word daar tussen die volgende onderskei:
• Bababoeke (0-3 jaar): Duursame kartonboekies, of interaktiewe boeke met byvoorbeeld skwiekers, legkaarte, vat-en-voel-insetsels, of opblaas-badboekies. Omdat dit baie duur is om te produseer, word oorsese boeke vertaal en in koproduksie met groot oorsese uitgewerye uitgegee. Voorleggings in hierdie kategorie word dus ongelukkig nie ingewag nie.
• Prenteboeke (3-5 jaar): Die teks is min en eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hou in gedagte dat ’n standaardformaat-prenteboek gewoonlik 32 bladsye beslaan. ’n Prenteboekteks moet dus genoeg om die lyf hê om sinvol in hierdie formaat te kan uitgee. Voorbeelde: Babalela (Martie Preller en Andries en Erica Maritz), Moenie die knoppie druk nie (Jaco Jacobs en Chris Venter).
• Eerste leesboeke (5-7 jaar): Die teks is min en die taalgebruik eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hierdie boeke is gemik op lesers wat pas self leer lees. Voorbeelde: Die Tippie-reeks (Jose en Reinette Palmer), Z is vir Zackie-reeks (Jaco Jacobs).
• Beginnerleesboeke (7-9 jaar): Kort, eenvoudige stories wat gewoonlik met volop illustrasies aangevul word. Die fokus is dikwels op prettige, opwindende en humoristiese storielyne. Voorbeelde: Die Oe la la, Lulu (Fanie Viljoen), My ouma is ’n rock-ster (Jaco Jacobs), Professor Fungus-reeks (Jaco Jacobs).
• Boeke vir intermediêre lesers (9-12 jaar): Humor, grilstories en avontuurverhale is onder meer gewild by hierdie ouderdomsgroep. Boeke het meestal swart-en-wit-illustrasies of soms geen illustrasies nie. Voorbeelde: Die Stalmaats-reeks (Lize Roux), die Sanri Steyn-reeks (Theresa van Baalen).
• Jeugboeke vir jonger tieners: (12-15 jaar): Boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel oor kwessies wat eie is aan die teikenmark se leefwêreld of tot tieners van hierdie ouderdom spreek. Voorbeelde: Die Thomas@-reeks (Carina Diedericks-Hugo), ’n Goeie dag vir boomklim (Jaco Jacobs), Middernagklub (Christien Neser).
• Jeugboeke vir ouer tieners (15-18 jaar): Lesers van hierdie ouderdom lees dikwels reeds boeke vir volwassenes, maar boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel gewoonlik oor karakters van ’n ooreenstemmende ouderdom as die teikengroep. Voorbeelde: Al wat ek weet (Marita van der Vyver), Uit (Fanie Viljoen), Asem (Jan Vermeulen).
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.