Description
FLUITJIEBLASER OF DOOFSTOMME: Wat maak ’n man as die party waaraan hy geglo het, hom teleurstel en hard onder sy jis skop?
Ek het gevoel my party het my gefaal in my poging om korrupsie oop te krap. Ek het voor die algemene verkiesing effe bitter geluister na toesprake teen korrupsie. Is daar dan klein korrupsie en groot korrupsie?
“Fluitjieblasery is ’n moeilike ding.
Ek kan jou byna waarborg die een of ander stelsel gaan jou pootjie en hard op jou gesig laat val.
Dit is hoekom mense bang is om korrupsie te onthul. Dit is nie ’n maklike pad wat jy kies nie.”– Kobus Hoffman
TITEL – Fluitjieblaser of doofstomme. Dit titel is vanselfsprekend – moet mens die fluitjie blaas of moet mens eerder jouself doofhou?
Kobus Hoffman (Publieke figuur) – Facebook: https://www.facebook.com/HoffmanKobus
KYK OOK HIER: https://nskrywershuis.co.za/advertensieblad/
Askies menere en mevrou dat ek op u tone getrap het. Ek moes my plek geken het. Ek moes liefs stil my stoel warm gesit het en die game saam met julle gespeel het. Ag, en ek sal nie weer oor julle manier van doen praat nie, ek sal stilbly en blissfully onbewus wees van wat aangaan in ons mooi dorpie en lekker bly. Soos die ander belastingbetalers wie se geld julle vet salarisse betaal en vir julle palmbome plant. Ek verstaan die situasie nou mooi: Mens trek jou kruisie agter julle name en dan kyk jy anderpad … Jy moet liefs sjarrap.
UITTREKSEL
Vir die man op straat is die wêreld van die munisipale rade en politieke koukusse ‘n vreemde hiërargie. Om dit in tegniese detail te omskryf en ‘n grafiek op te trek van wie is onderhewig aan wie en wie doen verslag aan wie, sou die prentjie dalk te veel van die werklikheid verwyder. Want enigeen wat al deel van ‘n raad, komitee of bestuur was, sal jou kan sê grafieke van gesagstrukture op papier dui die ideaal aan, maar dat die werklike prentjie nooit so uitwerk nie.
Selfs al is dit net ‘n kleuterskool se koekiekomitee is daar altyd onderstrominge. Als gaan voor die wind tot die wittebrood verby is en dan begin die poppe dans soos party hulle magsposisies wil uitbrei en soms dalk bietjie misbruik.
Dis vanselfsprekend dat dit veroorsaak dat ander geïrriteerd raak met die situasie. Dis dan wanneer die geskinder en geboelie begin. Dis ook hier waar geld die manne van die muise skei en mense se beginsels vervaag vir ‘n lekker vet salaristjek.
Dit is juis hoekom satirikusse soos Leroux en wêreldwye sukses-romans soos dié van Terry Pratchett so gewild is. Pratchett kry dit reg om klein stukkies fantasiewêrelde te skep wat ironies genoeg die wyer prentjie van die werklikheid verteenwoordig. Hy haal die magspel en onderstrominge van die mensdom deur middel van fiksie uit sodat ons ons eie wêreld beter kan verstaan.
Ek sukkel nog bietjie met laasgenoemde … om die wêreld te verstaan. Om selfs my eie klein wêreld in Meyerton te verstaan, gaan nog ‘n rukkie neem. Maar ek stem saam, in ‘n satire herken jy die lief en leed, die geknoei, geboelie en magspel. In my storie herken ek dit nie net nie, ek het dit aan my bas gevoel.
Dieselfde patrone wat jy van kleuterskool deur jou skoolloopbaan leer ken het, geld in jou grootmenslewe. Daar is die good guys en die bad guys, en om hulle van mekaar te onderskei, is nie altyd maklik nie. Ek het my lekker misgis hiermee toe ek by my nuwe pos by Midvaal ingestap het. Partykeer dink ek, Kobus, wat het jy verwag? Ook maar lekker stupid! Ek moes geweet het …
Mens leer seker maar party lesse oor en oor. Dis die skoolgeld wat jy betaal om deel te wees van die lewe. Wyses noem dit lewens-ondervinding wat van jou ‘n beter mens maak.
Daaraan gemeet, is ek na drie jaar dus ’n moerse goeie mens. Ek het al knoppe op my rug waar die vlerke gaan uitgroei. Dis net bokant die letsels van die dolksteke in my rug.
Nie almal op my dorp dink ek is nou ’n beter mens nie. Maar ek gee nie meer om wat ander dink nie. Wat ek wel geleer het, is hoe groter jy word, hoe harder val jy van jou fiets af.
admin –
Hierdie boek krap ‘n nes oop van korrupsie en behoort ‘n hele paar mense bloedrooi van skaamte te maak – dit is natuurlik as hulle ‘n gewete het!
– Schalk Pretorius, NMM