Description
NEMESIS: Lina, Cato, Candice, Adela, Jenny en Rona het iets in gemeen. Hulle is almal deur mans verfoei, verneder en verneuk. Dr Christine – Chris – Roux het empatie met hulle; sy was self die slagoffer van ‘n gewetenlose man. Soos Nemesis, die Griekse godin van vergelding, help sy elkeen van hierdie vroue om op te staan en terug te veg, te neem wat hulle toekom. En die mans kry wat húlle toekom. Die verhaal ontwikkel rondom elke vrou se vergelding vir wat haar aangedoen is. Soms vereis goeie uitkomste selfs vennootskappe met slegte mense.
Chris het ‘n geheim. Sy is verantwoordelik vir die dood van haar eks, Thomas. Sy móét Andreas, haar vennoot en die man wat haar help heel het, vertel, maar vrees dat sy hom sal verloor.
Wie is die geheimsinnige James Sinclair en Omar Lebus? Is een van hulle ‘n voortvlugtige pedofiel? En waar pas die Kaapse mafiabaas Denys Alekseev en sy wulpse Katya in die prentjie? Wie is die Rooikop en wie is pastore Áncora de Salvació en Cornelio? Die leser moet kophou om die ineengevlegte intriges en ontknopings te volg.
Die ondertoon is by tye ernstig, verlig deur ligter oomblikke en onverwagte wendings.
Die poppe dans behoorlik in Nemesis!