Die warboel en gejaag om jou word onverwags kalm wanneer ʼn oproep jou skielik tot stilstand bring. Die sagte stem aan die anderkant bring ʼn onvoorsiene rustigheid wat jou spontaan tot ’n asemsnak dwing. Die oggendlug is vars. Jy asem dit stadiger in.
Goeie nuus, ’n liefdesdaad uit erkentlikheid en ’n welwillendheidsgebaar wat jou sprakeloos laat. Die skenker soek nie erkenning nie, maar wat kan mens anders doen as om net dankie te sê? Die woord proe klaar so min en klein op ’n mens se tong.
Daarom verbreek ek die reël, want ek móét my dank teenoor Cordis Trust Publikasies toon vir die ruim skenking vir die liefdadigheidsprojek, My Gebed vir ’n Boer Twee. Hierdie liefdadigheidsprojek is na aan ons almal se harte en hierdie besonderse skenking word deel van die fondse wat ons kan aanwend om slagoffers van plaasaanvalle by te staan met trauma-berading.
Dankie, Cordis Trust Publikasies vir hierdie ruim gebaar, vir jul bemoediging, welwillendheid en steun.
Nico Schamrel, Ns. Skrywershuis | Ns. Liefdesdiens