Die verhaal – Bruidsbos – speel af in Hogsback, in die Oos-Kaap. Ek het lank gelede daar gewoon. Hogsback is ’n klein plekkie bo in die Amatola gebergtes waar dit sneeu in die winter.
Die woud is beeldskoon met verskeie watervalle, soos Thirty Nine Steps, Madonna and Child, Kettle Spout en Bridal Vail. Dit is juis hierdie pragtige natuur wat gelei het na Tolkien se roem met Lord of the rings en ook sy ander verhale.
My gunsteling wandeling was na Bridal Vail (Bruidsluier). Dit is beeldskoon, boomryk met wilde blomme en die pragtige wit Azalias wat in massas blom. Die naam van die waterval is te danke aan die wind wat soms die water terug waai in ’n fyn mistigheid wat soos ’n sluier om jou draai. Dit is hier waar ek gesit en droom het, soos Nina in die verhaal, en waar ek soms tot op die punt van die waterval gestaan het en die afstand na onder bewonder het.
Dit is ook hier waar die idee ontstaan het om by die huis waar ek gewoon het, ’n wit tuin te skep. Inwoners van Hogsback het elke moontlik plant na my gebring wat wit blomme bot en ek het ’n tuin geskep met die naam van God’s little White garden of Die Heilige wit tuin. Toeriste van Hogsback kon hierdie tuin besoek en op die bankie mediteer of met hul Skepper gesels. In hierdie tuintjie het ek my verbeel dat elke blom ’n musiekinstrument is; die Hogsback St’ Joseph lelie was trompette, die Sneeuballe was simbale, die wit rankroos was ’n harp … elkeen met sy eie klank.
In Hogsback is daar wel wilde voëls soos die loerie en papegaai, maar voëlvangers saai verwoesting en is tans skaars om te sien.
In Bruidsbos, neem ek die leser op hierdie verbeeldingsvlug van ’n dogtertjie en haar denkbeeldige maatjie, die aanloklike waterval wat haar nader roep, maar ek vertel ook vir die leser dat mens fyn moet luister en goed moet kyk – mens vergeet soms om die stilte en die mooi deeglik waar te neem. Iewers is daar dalk net iets wat jou oog mis … soos die piepklein wilde orgideë, ’n bospappegaai in die boonste takke of dít wat jou gelukkig kan maak. Mens moet luister – dalk is daar ’n Stem wat jou nader roep …

BRUIDBOS verskyn in die kortverhaalbundel – Engela – deur Nico Schamrel.