Mar
03
2024
Off
AFRIKAANS 100 - deelname
Afrikaans vier op 8 Mei 2025 honderd jaar van bestaan as amptelike taal en dié feesvieringe, as deel van die Afrikaans 100-veldtog, gaan landswyd plaasvind.
Ns, Skrywershuis (Uitgewer) ia trots om deel van hierdie feesviering te wees, saam met organisasies o.a. RSG, Afrikaanse Taalraad, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Kyknet, Solidariteit Beweging, Versindaba en Helpende Hand.
Ons het met trots die manifest onderteken wat hieronder geplaas word ter inligting.
Op 8 Mei 2024 sal Ns. Skrywershuis en NASKRIF ons plan van aksie bekend maak – ons gaan jou deel daarvan maak.
DIE MANIFEST
- Ons vier met dankbaarheid en vreugde die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal oor die afgelope 100 jaar.
- Ons doen dit as ’n groep mense wat almal lief is vir Afrikaans en belangstel in die Afrikaanse leefwêreld: Afrikaanse organisasies en instellings, skole, die media, asook tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.
- Ons erken die feit dat Afrikaans ’n diverse taal is met ’n diverse herkoms en dat dit deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word. Ons beskou dit ook as ’n inklusiewe en vriendelike taal en daarom sal ons dit verwelkom as die feesveldtog deur soveel as moontlik mense, gemeenskappe en organisasies ondersteun en gevier sal word.
- Ons is daarvan oortuig dat Afrikaans toekomsgerig is en bly groei; daarom vier ons Afrikaans se konstruktiewe bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap, en moedig ons gesprek aan.
- Deur hierdie feesveldtog wil ons ’n gekoördineerde poging aanwend om die mylpaal van een honderd jaar met positiewe sentimente te vier en die waarde van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ten toon te stel.
- Tydens hierdie feesveldtog sal ons graag wil sien dat Afrikaans se bydraes op talle gebiede gevier word, soos die kunste, literatuur, drama, poësie, onderwys, musiek (lig en klassiek), akademiese navorsing en woordeboeke (om maar ’n paar te noem). Daarom nooi ons alle organisasies om hieraan deel te neem.
- Almal wat belangstel om hierdie groot mylpaal van Afrikaans te vier, kry toegang tot ’n eenvormige, positiewe feesveldtog en -identiteit in die vorm van ’n logo wat saam met die instansie se eie korporatiewe identiteit gebruik kan word.
Posted inUncategorized