Die Liefde Wen bundel is ‘n versameling gedigte deur amateur-digters wat deelgeneem het aan die tweede LiefdeWen Digkompetisie in 2022. Inskrywings is van regoor die land ontvang en die bestes is gekies om deel te vorm van die bundel, saam met gedigte van ‘n paar bekende skrywers, soos Bibi Slippers, Angie Gallagher en meer. Die eerste kompetisie en bundel het in 2017 verskyn as ‘n projek deur Almero Welgemoed en Bouwer Bosch om aanhangers van die LiefdeWen handelsmerk aan te moedig om gedigte te skryf.
Die onderwerp en tema van beide bundels is “liefde” en skrywers kon die tema interpreteer soos hul wil.
Bouwer Bosch (gebore in Pretoria in 1984) is ‘n Suid-Afrikaanse sanger-liedjieskrywer, musikant, akteur en entrepreneur. Hy stel sy eerste album Almal maak Voute in 2011 vry, en word vereer met ‘n Ghoema-trofee vir beste nuweling vir dié album in 2012. Sy album Hopelik is in 2016 vrygestel.
Almero Welgemoed is die bekende sanger en liedjieskrywer wat ook Karavaan Klankbaan aanbied. In Welgemoed se oë het hy dit nog nie in die musiekbedryf “gemaak” nie. Dit is ten spyte van wat hy en sy broer Nico Welgemoed gedink het nadat hulle hul eerste musiekvideo in 2016 op YouTube gelaai het.
“Ons het gedink die volgende oggend gaan Huisgenoot ons bel,” lag hy. “Ek, definitief, is nie goed genoeg om ’n oornag-sensasie te wees nie. So, dis goed ek was nie een nie.”
Welgemoed sê sy loopbaan het eers begin “sneeubal” toe die musikant Bouwer Bosch op dié musiekvideo afgekom het. Bosch het die twee broers, wat in daardie tyd nog op ’n “gap jaar” in Mosselbaai gebly het, na Johannesburg genooi. Daar het hulle saam musiek gemaak en uiteindelik die besluit geneem om na Johannesburg te trek.