Titel: The kiss and beyond, stories exploring divergent aspects of that most universal and enduring human characteristic: erotic love
Skrywer: Malcolm de Roubaix
ISBN: 9780796117519
Uitgewer: NS. Skrywershuis
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
As jy van seks hou, en veral om daaroor te lees, dan is hierdie boek vir jou. Sou jy versigtig wees vir grafiese beskrywings van lakendanse, sou ek liefs iets anders aanbeveel.
Malcolm de Roubaix is ’n berese, belese skrywer wat verskillende aspekte van seksualiteit ondersoek en ontgin.
Sapiens is nou eenmaal ’n wese wat beheer word deur twee breine, en net een van ons breine sit tussen ons ore. As die bloed eers laer begin bruis, dan verlaat die rasionele denke ons frontale lobbe alte maklik.
De Roubaix weet. Hy het as medikus gespesialiseer in narkose, maar sy latere navorsing was in etiek. In sy voorwoord sê hy:
On the one hand, we are capable of the most daring feats, the most exquisitely beautiful artistic expression, music, prose and poetry, compassion, care, and acts of great unselfish kindness. On the other, we remain base animals at heart.
Die skrywer se geweldige mediese en leeskennis word in The kiss and beyond ten toon gestel.
Die titel en die voorblad
Die voorblad van hierdie bundel kortverhale is ’n slim foto gebaseer op Gustav Klimt se skildery Die soen; die titel speel dus ook daarop in.
Die bundel open met ’n drieluik verhale wat op hierdie skildery fokus. Gemelde verhale is, na my mening, die beste.
Die bundel se laaste verhaal is ook weer besonder sterk.
Die Klimt-trilogie vorm eintlik een groter verhaal, maar elkeen staan tog op eie bene. Die eerste, “The kiss”, eindig juis op ’n ongemaklike noot wat die leser laat vra vir meer. Die tweede, “The kiss part two”, toon belofte en daarna kom die voltrekking in ’n slim dog tragiese verhaal “Erotica”.
’n Soen lei dikwels na die versugting van meer en op ’n manier is alles hierna “and beyond”.
Klimt se skilderye het gereeld verder gegaan as ’n kus – sy naakstudies is bekend, maar ook veelvlakkig. In Die soen is die vrou se gesig sereen; dit is haar voete wat aandui hoe ver sy reeds geval het vir die man.
Wanneer Klimt borste, selfs ’n penis of twee skilder, word die kyker se oë verlei deur kleure en vorms. Ja, die naakte lywe is duidelik, selfs skaamteloos ten toon gestel, maar hulle is geplaas tussen vorme en kleure wat inspeel en verlei, weglok en teruglei.
Roland Barthes het in S/Z gesê dat die mees erotiese plek daar is waar ’n kledingstuk oopval. De Roubaix sukkel nie met klere wat moet oopval nie; hy pluk hulle sommer uit en gaan oor tot aksie.
Die voorwoord
As dié bundel sou dien as essay in ’n voorgraadse filosofieklas, sou die dosente enorm opgewonde wees dat iemand hulle inleiding so goed kan gestand doen. Ek wil, tong in die kies, noem dat ek eintlik nie ’n resensie hoef te skryf nie. De Roubaix het dit reeds in die voorwoord gedoen.
Hy sê:
I admit that I have been somewhat of a voyeur. The attraction that exists between the sexes – and between some members of the same sex, for that matter – has produced the most exquisitely beautiful poetry and prose.
Lekker.
Sy humor laat ’n mens glimlag:
In times gone by the game of love was like the art of fencing: fervent feints, poetic parries, risqué ripostes and lustful lunges, fancy footwork with never a fatal thrust (no pun). Though, of course, thrusts did eventuate, they simply weren’t written about.
The kiss and beyond bevat genoeg “thrust” om ’n Boeing te laat opstyg.
Daar is ’n mediese fassinasie met al die steke wat uitgedeel word. In die skrywer se eie woorde:
As voyeur I observe my characters dispassionately. They do their own thing as literary characters tend to, don’t they? They lust and love, they fret their hour upon life’s stage, they age, they die, then are heard no more.
Inderdaad, daar is iets geweldig “dispassionate” in die manier waarop die stories vertel word; al die baie passie word met ’n afstandelikheid oorgedra.
Dus?
’n Vriendin wat my heeltemal te goed ken, wou dat ek die bundel lees, aangesien ek glo van seks hou. Wel. Ek het. Meer as net ’n Boeing het opgestyg.
ERKENNING: LitNet / Izak de Vries