'n Siektetoestand laat Arno en Orna kinderloos. Sy argeloosheid daaroor verwoes hulle huwelik.
Ewald se vrou beswyk aan komplikasies na ’n motorongeluk en laat hom en hul baba agter. Wedersydse ondersteuning tussen Orna en Ewald laat die vonke spat. Ewald se niemand-sal-weet-nie word almal-gaan-weet toe Orna aangekla word van moord. Die spanning is ondraaglik en veroorsaak wantroue teen mekaar, veral met verdoemende bewyse op hande. Verskuilde geheime word ontbloot en nie een van die partye weet of hulle die klonte sout kan verteer nie.
Wie sal kon raai dat ‘n roman soveel spanning kan hê? Dit is wat Elsabé Welman vermag in hierdie spanningsroman – Klonte Sout.
Arno en Orna is kinderloos weens ‘n siektetoestand, wat hy verseg om te laat behandel. Dit verwoes hulle huwelik en Orna besluit om weer te gaan werk.
Ewald se vrou sterf aan komplikasies na ‘n motorongeluk en laat hom met ‘n baba agter. Hy ontmoet Orna wat pas by die maatskappy begin werk het, en daar ontstaan ‘n verhouding van wedersydse ondersteuning tussen hulle. Wanneer Orna aangekla word van moord verander alles – dit veroorsaak wantroue teenoor mekaar. Die spanning loop hoog en daar is verdoemende bewyse teen hulle. Orna dra verskuilde geheime en dit veroorsaak op sigself baie skade aan hulle saamwees. Gaan Ewald en Orna hierdie wavrag klonte sout saam kan verteer of gaan hulle elkeen sy eie paadjie loop?
Klonte Sout is ‘n besonderse verhaal van lief en leed tussen twee mense – dit beloof heelwat intriges en kinkels in die kabels. Opvallend is hoe Elsabé daarin slaag om die spanningslyn met goeie sinspeling te skep. Die leser se simpatie lê deurgaans by Orna, maar word dan verplaas na Ewald wat self moeilike besluite moet neem. Die verhaal is boeiend met ‘n sterk verteltrant en die karakterskepping is geloofwaardig en interessant. Die taalgebruik is keurig, beeldryk en die skrywer skryf met deernis en empatie. Die ontknoping word tong in die kies ontplooi en sal die leser vervuld laat.
Dit is ‘n goeie spanningsroman met ‘n byt en is beslis die moeite werd om te lees.
RESENSENT: Annalize Hills – Onafhanklike Resensent van Afrikaanse Boeke
FACEBOOK: https://www.facebook.com/groups/155643073130251
KONTAK: hillsannalize@gmail.com
Genre: Roman
Tags: Hoog aanbeveel, Stergradering: Prima Goud
Publisher: Ns. Skrywershuis
Publication Year: 2021
Format: Sagteband / ePub / Mobi
ASIN: B09N7F62SY
Rating:
List Price: R230.00
eBook Price: R130.00
Elsabé was al ʼn plaas- en stadsjapie en het primitiewe dae in Mosambiek geken, maar in die vreedsame Karoo het sy nes geskrop en kan na hartelus skryf en skilder. Klonte Sout is haar vierde roman. Elsabé se werk word geken aan ʼn gemaklike en boeiende skryfstyl wat verskeie genre’s suksesvol vasvang in een roman.