Bets Koen het die voorreg gehad om Karel Nel se boek – Vaal ver pad – aan hom te oorhandig by ’n spesiale boekbekendstelling.

Sy het in die hoedanigheid as teksversorger van hierdie besonderse boek, PENdit.za en Ns. Skrywershuis (uitgewer) hierdie geleentheid bygewoon. Die bekendstelling is gehou op die klein dorpie, Op Die Berg, ongeveer ’n uur se ry vanaf Wolseley.

Bets vertel: “Daar gekom, het ek vir Christa [niggie van Karel] ontmoet by die VG Kerk. Sy het my vinnig in die saal gewys waar ek moet sit. Twee tafels voor in die saal. Een vir Karel en sy boetie wat gebed sou doen, een vir my en Jaap [Bets se man]. Blommetjies galore en heerlike verversings. Ek moes toe buite in die motor sit, want Karel het nie geweet ek sal daar wees nie.”

Karel het opgedaag en sy plek ingeneem en was glad nie bewus dat Bets Koen teenwoordig gaan wees nie.

“Toe almal sit,” vertel Bets, “het Christa my kom haal en gemasker het ek ewe sedig ingestap en gaan sit. Karel wou opstaan om my te groet, toe sê die predikant vir hom hy moet sit – hy sal my voorstel. Toe sak Karel maar weer in sy stoel in, maar baie nuuskierig. Ek het hom so onderlangs dopgehou.”

Bets is toe aan almal en veral Karel, voorgestel. Karel het glo so half uit die stoel gekom van verbasing en is aan die woord gestel. Bets het haar eie toespraak gemaak, die eerste gedeelte van sy boek voorgelees, asook die twee juweeltjies wat sy voorin sy boek geskryf het, aangehaal.

Daarna het sy die boek aan hom oorhandig.

“Covid vergete, toe druk hy my sommer,” lag Bets tog te lekker.

Die Witzenberg koerant was daar en het net foto’s geneem – Bets het gevoel soos ʼn filmster! Karel moes na hulle ateljee gaan vir ʼn onderhoud en dit het later in ʼn koerantartikel verskyn.

Ns. Skrywershuis en PENdit.za is trots om deel te wees van Karel Nel se sukses.