Sep
18
2022
0
So baie skrywers wil so graag hulle boeke in ʼn boekwinkel plaas. Is dit dalk by skrywers ‘n vorm van ‘ek het sukses behaal’? Word die boekwinkel gesien as ’n triomf?
DIE PRYS Wat skrywers nie besef nie – hoe meer mense betrokke is by jou boek, hoe kleiner word jou wins! Die uitgewer, verspreider en boekwinkeleienaar neem elkeen hulle gedeelte. Die verkoopprys word duurder om elkeen se flentertjie wins by te reken. Dus krimp jou tantieme en ontvang jy skaars genoeg geld per boek om ’n brood te koop.
DIS VOETE WAT KOOP Besoek gerus jou naaste winkelsentrum wat ’n boekwinkel huisves. Let op hoeveel mense binne die winkel is én hoeveel loop verby. Let ook op na die diens wat die boekwinkel lewer, wie se boeke bemark word en hoe dit bemark word. Staan jou boek ’n kans? Gaan jou boek hier uitstaan tussen duisende ander?
WAAR IS DIE MEESTE VOETE Let bietjie op waar is die meeste voete. Watter winkel besoek mense die meeste – elke dag, gereeld, waar hulle meeste geld spandeer … die kruideniersware winkel. Koop jy nie ook soms iets wat jy nie op jou lysie het nie?
MAAK VRIENDE Meeste kettingwinkels het privaat eienaars. Kontak die eienaars en vra of jy ’n paar boeke by hulle mag uitstal. Meeste eienaars is altyd gewillig om hul gereelde kliënte te ondersteun. Al vereiste is dat jou boek oor ’n strepiesbalkie agterop moet beskik. Jou kanse om jou boek byvoorbeeld by ’n Spar te verkoop, is beslis baie groter as by enige boekwinkel. Meeste van my boeke het ek juis by ons plaaslike Spar verkoop.
VERGEET DIE MIETE Daar is hoegenaamd niks daaraan om jou boek in ’n boekwinkel te sien nie. Dit is geen prestasie nie. Dit is wel so dat jou boek landswyd beskikbaar is, maar daarom is daar ook ’n aanlyn winkel soos by Ns. Skrywershuis – baie meer gemaklik en goedkoper as ’n boekwinkel.
Daarbenewens gaan jy meer boeke verkoop by jou plaaslike kettingwinkel as by enige boekwinkel in jou kontrei as oor die hele Suid-Afrika – dit kan ek jou amper waarborg!
Posted inUncategorized
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.