FLUITJIEBLASER OF DOOFSTOMME – die titel vra duidelik: Moet jy die fluitjie blaas of moet jy eerder doofstom wees? Moet jy praat of moet jy eerder jou rug draai?
Kobus Hoffman is nie bang nie. Hy is ook nie doof of stom nie. Hy is nie bang om sy mond oop te maak en die waarheid te praat nie.
“Wat maak ’n man as die party waaraan hy geglo het, hom teleurstel en hard onder sy jis skop?” vra Hoffman en skud sy kop in ongeloof.
“Ek het gevoel my party het my gefaal in my poging om korrupsie oop te krap. Ek het voor die algemene verkiesing effe bitter geluister na toesprake teen korrupsie. Is daar dan klein korrupsie en groot korrupsie?” Hy skud weer sy kop en kyk na die dokumente voor hom. Bewysstukke.
In hierdie boek openbaar Hoffman die pad wat hy moes stap as politikus, lid van die DA en toe fluitjieblaser – die proses, bedrog, bewyse en doodsdreigemente teenoor hom en sy familie.
In sy voorwoord skryf Hoffman: 
Vir die wat ons te na gekom het, ek het julle vergewe. Ek hoop dat ander dit ook sal regkry. My wens vir julle is dat julle eendag julle harte sal versag en besef dat daardie inkomstes baie hartseer veroorsaak het en dat baie mense gebreek was deur julle dade. – VOORWOORD, bl. v.
Dit is hoe hierdie man is – vergewensgesind. Hy dra nie ‘n wrok nie, maar hy lewer sy saak en staaf wat gebeur het om duidelikheid te bied oor ‘n kwessie waaroor hy te nagekom is. Hy skryf ook:
“Fluitjieblasery is ’n moeilike ding. Ek kan jou byna waarborg die een of ander stelsel gaan jou pootjie en hard op jou gesig laat val. Dit is hoekom mense bang is om korrupsie te onthul. Dit is nie ’n maklike pad wat jy kies nie.”
Hy haal ook aan uit die Midvaal Munisipale Ouditverslag deur Timothy Nast (destydse burgemeester):
‘Maar vandag sluk ek moeilik aan die sin: “Our audit report gives concrete proof that allegations of fraud and mismanagement at the municipality are nothing but politically-motivated lies.”
Ek is nie arrogant nie as ek dink dié sin is spesiaal vir my ore bedoel. Lees my storie, dan sal jy weet hoekom ek my geloof in mense, my politieke party en my plaaslike regering verloor het.’ – INLEIDING, bl. viii – ix.
Hoffman beskik oor die vermoë om met ‘n tikkie humor die erns ietwat te versag, maar sy terugbaklei word met oorgawe geopenbaar.
Ek het besef die grootste fout wat ek kan begaan, is om niks te doen nie. En hy het ook nie.
“Jy is besig om ‘n huis van kaarte te bou en dit gaan inmekaar val ten koste van jou politieke loopbaan,” het Thomas Walters om gewaarsku.
Maar die sterkste woorde kom van André Odendaal, prokureur van die DA: “Hier is die enigste bietjie gratis regsadvies wat jy ooit sal kry … ek gaan vir jou kaalgat uittrek!” – HOOFSTUK 1, bl. 1.
Reeds in die begin van die boek raak Hoffman aan die ‘vergadering by Steers’ – die oomblik van waarheid, aantygings, egtheid van sy verklaring, dreigemente – en omkoopgeld – wat later die bom laat bars.
Hulle planne met die “vergadering” in die Steers was taamlik deursigtig. Hou die wortel van geld en simpatie voor sy neus, dan het ons hom net waar ons hom wil hê. Of so het hulle gedink. Na die kamma simpatie het die gesprek vir my ‘n grillerige prentjie begin skets. – HOOFSTUK 9, bl. 78
Tydens sy ondersoek het hy probeer om aan die ander raadslede te verduidelik wat hy probeer doen. Hy het vir die DA-koukus ‘n brief geskryf en hulle ingelig dat hulle nie kan stilsit terwyl hierdie goed aangaan nie. Hulle moet hulleself teen vervolging beskerm ingevolge die Prevention and Combating of Corrupt Activities Act. Stilbly was ’n misdaad. Maar om te praat, sou mense ook blootstel aan afdanking en ’n geboelie. Almal het gesien wat met hom gebeur het.
Kobus Hoffman slaag skitterend daarin om ‘n goeie weergawe neer te pen van persoonlike ervarings, bedrog en die slegheid in politieke geledere te promulgeer. Hy skryf in ‘n gemaklike trant sonder om té formeel voor te kom.
In sy eie woorde:
Hierdie is ‘n boek oor good guys en bad guys. Ek weet nie nou al of ek vir jou oor ’n paar jaar ‘n happy ending sal kan gee nie. Die storie gaan nie by die einde van dié boek eindig nie.
Ek sou graag voor in hierdie boek wou skryf: “Alle karakters en gebeure is denkbeeldig.” Soos in die flieks en stories. Maar dit is ongelukkig ‘n greep uit my lewe wat ek met jou deel. En die karakters is real. Pynlik werklik.