Hier is ons weer met ’n luukse DEKAT om julle weg te voer en op te beur ná die ellendes van Covid en voortdurende beurtkrag wat genoeg is om enige mens melankolies te stem.
Ons bied ’n praguitgawe propvol artikels oor kuns, kos, kultuur, motors, mense, aktuele sake, ons diep stories op uit die verlede en gooi ’n ander lig daarop – in kort – ons missie is om ons lesers te vermaak. Só skryf redakteur, Elzilda Becker.
Ek blaai versigtig deur my uitgawe. Sommige mense sal dit beskryf as vreemd en abnormaal – ’n lekker vreemdheid en ’n kunstige abnormaliteit. Ek vind dit eksoties, sonderling, eiesinnig, raar, afwykend, rebels, stroomop, grotesk, onkonvensioneel en effe mal. Kunstenaars moet effe mal wees, glo ek. En wanneer ek van ‘mal’ praat, bedoel ek nie kranksinnig of getik nie, maar eerder laf-mal. Kunstenaars, skrywers, digters, fotograwe en skilders sien dinge op ’n ander manier as Jan Alleman. Hulle bring daardie andersheid na vore en maak van niks ’n kunswerk wat jy wil raam en teen jou muur hang.
Dít, liewe leser, is wat so spesiaal is aan hierdie DeKat. ’n Hele 330 bladsye vol skatte; lieflike leesstof, fotografie wat jou verstom en verlustig, watertand en smullekker ... ek raak nou weer van vooraf opgewonde. Laat ek net asemskep. Nico Schamrel, Uitgewer en skrywer | Ns. Skrywershuis