VOOR DIE VOORWOORD
Menigmale het ek al waargeneem hoe trauma, binne ’n omme-sientjie, ’n slagoffer tot binne die donkerste holtes van menswees kan verskuif. ’n Swart spelonk, ’n reuse gaping waarin die slagoffer val; ’n bodemlose put waarin die slagoffer gyselaar gehou word.
Geen mens kies hierdie swart gat nie. Jy lewe, maar jy is ook dood; emosies is lamgelê, verwarde gedagtes, gestroop van jou menswees, hulpeloos, onbeholpe, verwese, magteloos. Niks maak meer sin nie. Ek wil dit vergelyk met breindood – dalk is die vergelyking nie so vêrgesog nie.
In ’n kitsoomblik het Bernadette Small se lewe ineengestort.
“Jy het oor AJ gery!”
Haar kind. Haar seuntjie wat ’n ma se hart se punt is. Haar Piepies. Haar bondeltjie liefde.
Al skyn die son en is die somersdag gevul met voëlsang, dit raak donker. ’n Helder sonskyndag word ’n nagdonkerte wat haar meteens insluk.
Dit was die begin van ’n pad wat ’n ma moes stap wat beskuldig en aangekla kon word vir manslag.
Die koerant basuin dit uit; in hoofopskrifte, koerantbaniere op lamppale, sosiale media. Die wrede koerantpers draai nie doekies om nie: Ma ry kind dood.
Sosiale media het haar verdoem.
Jy moet boet. Jy is ’n slegte ma, moordenaar, laag, gemeen, gevoelloos, wreed, misdadiger.
v
Klaar geoordeel.
Skuldig bevind.
Hierdie boek bied aan die leser die juistheid aangaande hierdie traumatiese gebeure en die realiteit rondom die lewe van Bernadette Small, voor en na die gebeure.
Dit is ’n roerende vertelling uit die mond van ’n ma wat haar eie lewe sou gee vir haar kind. Dit bied indiepte insig oor die psige, skuld-gevoelens en vertwyfeling wat ’n vrou weg dwing van geloof, familie en haar huwelik.
Sy vind haar op ’n plek waar sy dobberend ronddryf op die oop see; sy moet bo-op bly, maar sink al dieper weg. Hoe nader sy aan die dood kan kom, hoe nader beweeg sy aan haar kind. Sy verwyder haarself uit die normale gang van die lewe en plaas haarself in afsondering deur alle emosies af te skakel. In haar ballingskap moet sy haar eie demone trotseer terwyl sy op verkeerde wyse verligting probeer vind. Sy word eensaam binne haarself; geestelike probleme stel haar gesondheid in gevaar en staar selfdood in die oë.
Bernadette se verhaal is ook ’n verhandeling vir ander om hieruit te leer. Is daar berusting? Hoe hanteer jy jou skuldgevoelens? Is daar vergifnis? Kan jy vergewe? Hoe neem jy afskeid van jou kind as jy hom lewend wil hou? Wat is daar om voor te lewe?
Small bied meer inligting oor die voorval wat nie algemeen bekend is nie en ’n teorie wat geloofwaardig is oor wat heel moontlik gebeur het op daardie verdoemende dag.
Ten slotte vind sy op 2 Augustus 2023 onverwags berusting – ’n gebeurlikheid wat haar finaal bring op ’n plek beter as ooit te vore.
vi
Deur haar vertellings neer te pen, is Small nie op soek na bejammering nie, maar wil eerder die omstandighede belig, bespiegelinge opklaar en ander na haar seëviering lei.
Hierdie uitsonderlike boek – Dinosourus, ’n docket en die dood – is nie geskryf vir taalpuriste nie, maar is neergepen uit die hart van ’n wonderlike vrou wat nederig bly in haar strewe na berusting en vir AJ tog op haar eie manier rus bied. So bly die nagedagtenis aan hierdie kindjie ook lewend.
Hy is by sy Vader en hy is gelukkig.
Geskryf deur Nico Schamrel, Ns. Skrywershuis – Uitgewer