Sondebok swartskaap

Wraak, liefde, sonde, verlange, oneerlikheid, hoogmoed, geheime en geloof – alles hou ʼn verband met mekaar en almal word deel van mekaar se lewe, of dit reg of verkeerd is.

Liena Kleingeld se verlange na die waarheid bring haar terug na die wit kind met die blonde kuif. Maar wraak bring tragedie en ʼn jong vrou se liefde vir haar man word tot die uiterste beproef. Elkeen het sy eie geheime – sommige is swart en ander s’n sonde.

Daar was een engel wat gereeld geruisloos verby gevlieg het. Altyd met ʼn sonneblom in die een hand en ʼn swaard in die ander hand. Een ding is verseker: jy lieg en bedrieg nie vir die engel nie. Jou woord moet jou eer wees.

Ongelukkig was dit die probleem met die sondebokke en die swartskape – nie almal van hulle se woord was hul eer nie.

Vir die wat goed was, was daar altyd ʼn goudgeel sonneblom. Vir die wat nie so goed was nie, was daar die swaard.

Order Now!
About the Book

RESENSIE: Annalize Hills – onafhanklike resensent van Afrikaanse boeke

‘Een ding is verseker: jy lieg en bedrieg nie die engel nie. Jou woord moet jou eer wees.’

Sondebok, Swartskaap is die verhaal van ‘n hele paar mense wat ‘n verbintenis het met mekaar. Sommige loop die reguit pad en ander maak hulself skuldig aan verskeie misdade. Selfs die Mag maak hul skuldig aan toesmeerdery en anderpad kyk.

Maar die mens keer altyd terug na jou wortels. In hierdie verhaal het elkeen sy eie geheime en elke karakter se persoonlikheid is uniek. Ma-Betsie wek so veel deernis en empatie by die leser – haar psige word op ‘n amper poëtiese wyse uitgebeeld. Ons lees van ‘n Engel wat soos ‘n bries tussen hierdie mense beweeg – soms met ‘n sonneblom of selfs met die swaard. Hierdie elemente gebruik Nico vernuftig om by te dra tot die verwikkeling, vertelling en die milieu van die verhaal en die elemente word dan ook deel van die werklikheid. Sondebok, Swartskaap is tog maar dieselfde betekenis – of nie?

Nico verras met hierdie diep en insiggewende verhaal. Wat veral opvallend was, is hoé hy daarin slaag om die kontras tussen die verskeie mense se eienskappe uit te lig. Selfs die Engel en die sonneblom bring diepte aan die verhaal. Dit is ‘n verhaal wat in jou hart kom nesskop. Ek was geraak deur elke karakter se optrede en kon insig kry tot hulle keuses. Nico se skryfstyl is gemaklik, boeiend en deurspek met interessante en geloofwaardige karakters. Die ontknoping van die verhaal was onverwags anders.

Verreweg ‘n keurige boek wat die moeite werd is om te lees en te geniet.

Details
Author:
Genres: Roman, Spanningsverhaal
Tags: Hoog aanbeveel, Nico Schamrel, Premium Boek, Stergradering, Stergrdering: Prima Silwer
ASIN: B08RJGTZ4X
ISBN: 9798592209055
List Price: R140.00
eBook Price: R35.00
Endorsements
So het elkeen sy geheime -sommige is swart en ander s'n is sonde. Hierdie woorde som SONDEBOK SWARTSKAAP goed op. Dit is belaai met emosies en 'n strewe na oplossings en vergifnis. Ryk aan karakters wat eg weergegee word deur die skrywer.
– Monique de Waal, NMMU
Book Club Resources
Order Now
About the Author
Nico Schamrel

Nico Schamrel is gebore en getoë op Uitenhage. Van sy kortverhale verskyn in verskeie keurbundels. Nico ontvang ook 'n benoeming van Croyez Literêre Toekennings vir sy kortverhaal – By Mooirivier se brug – wat in sy debut bundel, Engela, opgeneem is. In 2020 ontvang hy die Chris Barnard Prys benoeming vir sy kortverhaal – Kaggen – wat opgeneem is in sy bundel Prente in my kop.

In 2021 ontvang hy twee benoemings van INK-skryf in Afrikaans vir twee van sy gedigte wat gepubliseer is in 'n gesamentlike digbundel.

Nico Schamrel is ook die stigters lid van PENdit.za - 'n platform wat geskep is om talentvolle skrywers te help en ter ontwikkeling van die Afrikaanse verhaalkuns.

Ns. Skrywershuis is ook deur Nico Schamrel gestig om talentvolle skrywers te help om hul skrywes te publiseer.

Van Nico se skrywe word voorgelees oor Kaapstad Radio en in leesbeeld uitgesaai op Net Afrikaans (TV).

Hy is nie net 'n uitgewer en skrywer nie, maar soms ook beoordelaar, grafiese ontwerper, digter en resensent.

Preview