
Op twee plase in die Karoo rus ʼn berg met die lyf van ʼn dier en ʼn kop van ʼn roofvoël. Daar maak die kransaasvoëls nes. Op daardie berg lê die spore van onvrede en onmenslikheid, skandes en klug – en daardie spore loop net na een plek ...
Maar duskant lê die berg voor Petronella, kind van Kietie, uitgestrek − ʼn spekvet lyf bedek met kriebos en die bitteraalwyn. Hier lê spore van verlange, hoop en geheime – heiligheid in sy binneste.
En tussenin is die grensdraad tussen haat en verbitterheid, die eenvoud van liefde en ʼn jongmeisie se fantasiebeelde.
Almal wonder wat Selma Loots bloots ry en of Braam deel is van haar beproewing. Almal gis wie se kind is Petronella, maar vir háár is Janneman se terugkoms die oplossing van alles.
RESENSENT:
A Hills – Onafhanklike Resensent van Afrikaanse Boeke
FACEBOOK: https://www.facebook.com/groups/155643073130251
Petronella is ‘n kind van die veld, in besonder die Karoo. Sy ken van aalwyntap en doen alles op die klein plasie, waar sy en Ma Kietie woon. Hulle verkoop aalwynsap en varsgebakte brode om liggaam en siel bymekaar te hou. Petronella is ‘n dromer en weet dat ‘n sprinkaan net vorentoe kan spring, want Janneman sê so. Gaan daar vir hulle uitkoms kom?
Ons maak ook kennis met Selma en Henk, die bure. Selma is Petronella en Kietie nie goedgesind nie. Wat gaan Henk doen wanneer hy uitvind hoe slinks Selma werklik is?
Nico het ‘n verrassende aanslag in hierdie verhaal. Sy beskrywing van die Karoo en die verskillende karakters is fenomenaal. Hy beeld met deernis die lewe van die Karoobewoners uit. Daar is heelwat kinkels en geheime in hierdie verhaal, en Nico slaag daarin om die ontknoping op ‘n meesterlike wyse te ontplooi. Die storielyn is boeiend en hou die leser enduit aan die raai. Die taalgebruik is baie goed en dit maak dit lekker om die boek te lees.
Dit was vir my ‘n plesier om hierdie boek te lees, en sal dit aanbeveel vir almal wat van iets anders hou as die alledaagse.
RESENSIE: Prof. Diana Wills, NMMU
Hierdie is nie net ‘n gewone liefdesverhaal nie – dit is buite die gewone en norme. Die skrywer se besonderse skryfstyl vleg ‘n verhaal van verskeie emosies en situasies wat die leser boei. Die milieu is tipies van die pragtige en soms dorre Karoo met kleurryke beskrywings van die omgewing wat perfek by die intrige en emosies inpas.
Genres: Liefdesverhaal, Novelle, Roman, Spanningsverhaal
Tags: Hoog aanbeveel, Resensie, Stergradering: Prima Goud
Publisher: Ns. Skrywershuis
Publication Year: 2021
List Price: R150.00
eBook Price: R75.00

Nico Schamrel is gebore en getoë op Uitenhage. Van sy kortverhale verskyn in verskeie keurbundels. Nico ontvang ook 'n benoeming van Croyez Literêre Toekennings vir sy kortverhaal – By Mooirivier se brug – wat in sy debut bundel, Engela, opgeneem is. In 2020 ontvang hy die Chris Barnard Prys benoeming vir sy kortverhaal – Kaggen – wat opgeneem is in sy bundel Prente in my kop.
In 2021 ontvang hy twee benoemings van INK-skryf in Afrikaans vir twee van sy gedigte wat gepubliseer is in 'n gesamentlike digbundel.
Nico Schamrel is ook die stigters lid van PENdit.za - 'n platform wat geskep is om talentvolle skrywers te help en ter ontwikkeling van die Afrikaanse verhaalkuns.
Ns. Skrywershuis is ook deur Nico Schamrel gestig om talentvolle skrywers te help om hul skrywes te publiseer.
Van Nico se skrywe word voorgelees oor Kaapstad Radio en in leesbeeld uitgesaai op Net Afrikaans (TV).
Hy is nie net 'n uitgewer en skrywer nie, maar soms ook beoordelaar, grafiese ontwerper, digter en resensent.