HOE VER IS VER? In die tyd van vinnige motors, treine en supersoniese vliegtuie kan ’n mens byna in ’n dag om die wereld reis.
Om egter met ’n donkiekar deur die Tankwa-Karoo te reis, kan nogal ’n uitdagende ervaring wees.
Vir Jafet en Sarah is dit nie net ’n reis huis toe op die stowwerige, vaal pad deur die droë Karoo nie, maar ook ’n lewens- en sielereis na ’n onseker toekoms.
Die seer van die lewe het Groenvlei in hulle afwesigheid in oorvloed getref. Jafet en sy vrou Sarah is die uitkoms op gebede om vertrapte liefde te herstel. Maar Groenvlei? Sal die plaas ooit weer herstel?
RESENSIE DEUR: Prof. dr. GJ van Jaarsveld (em.) D.Lit. (UV), MA (RAU), THOD (NKP)
Dit is net ’n voordeel as die skrywer deeglike kennis en ervaring het van die omstandighede en die omgewing waarin sy storie afspeel. Dan kan hy met eerlikheid en oortuiging sy verhaal vertel. En dit is hoekom die lesers onmiddellik ingetrek word in die haglike omstandighede van die hoofkarakters, Jafet en Sarah, en hulle babatjie op die ver, vaal pad in ’n donkiekarretjie. Die skrywer hanteer die karakters met deernis en eerbied en deur hulle oë word jy saamgeneem deur die dorre veld: ‘Dis nog vroeg − net so na nege − maar die hittegolwe dans reeds op die horison. Die koppies en rante weerskante van die pad vertoon byna swart, so asof dit die vaal dorheid, die doodsheid van die veld probeer verskans.’
Maar die reis op die ver vaal pad is veel, veel meer. Dis ’n pad waarop hulle terugreis. Daar is ’n stuk van die pad wat agter lê waardeur hulle moes reis as gevolg van die feit dat hulle die plaas moes verlaat. Daar is ’n stuk wat voorlê na wat sowel hulle verlede as toekoms as eindpunt het. Dis Sarah wat Jafet bemoedig: ‘Ons moenie so swaar dra aan dinge wat agter ons is nie. Ons moet ons kragte bymekaar maak vir dit wat voorlê.’
Dis duidelik dat die skrywer vertroud is met die omstandighede. Die reis word haarfyn beskryf ook wanneer dit byna verongeluk word. Hulle kry ook iemand anders op ’n pad. Nimrod Ballack, ’n voortvlugtende, vermeende moordenaar wat drie onskuldige, bruin kindertjies doodgeskiet het en wat nie weet wat voorlê nie. So ontmoet hulle ook ander wat ’n pad het om te loop. Hulle eie figuurlike ver, vaal pad.
In hulle verlede lê Groenvlei, duidelik in kontras met wat hulle nou beleef. Jafet se pa moes ’n sielsmoeilike besluit neem: ‘Dit gaan goed op Groenvlei, jy sien dit, die skape lyk goed, die lusernlande en die knoffelbeddings kan nie beter nie … Dit is net by die huis waar dinge nie wil regloop nie, Jaffie.” Oor hierdie onmin op die plaas, die hardkoppigheid van die Krugers, moes hulle padgee. Nou is hulle op pad terug met minder as toe hulle daar weg is. Dit is ironies dat die ‘verlore weggejaagde seun’ nou moet terugkom om Groenvlei weer ‘groen’ te maak. Terwyl hulle weg was, het Groenvlei sy eie vaal, vernietigende pad geloop. ‘Dit is eers nadat Jafet afgeklim en voor om die donkies stap dat sy ma by die deur uitkom. Jafet kyk na haar. Sy lyk so anders as wat hy homself voorgestel het. Die beeld het altyd by hom gespook; die sterk uitdagende vrou wat hulle hande in die sye op die werf inwag. Die vrou wat voor hom staan, se hande is voor haar bors gevou. Sy lyk klein, tenger, byna broos.’
‘As sy pa van agter die huis kom stap, voel dit vir Jafet asof sy hart in stukke wil breek. Die ou man sleep sy linkerbeen met baie inspanning met hom mee. Ook hy lyk klein en verskrompeld.’
Wippie se kind is dood, die plaas het agteruit gegaan, hulle is geterroriseer deur Rhoda se broer. Wippie het hulle verwyt vir alles wat verkeerd gegaan het. Sy afdraande pad was ook Groenvlei se agteruitgang. “Hoe het jy so geword, hoekom het jy ons uitverkoop aan die duiwel. Wat het ons jou aangedoen, my kind?’
Ja, selfs Wippie het sy eie treurige, ver vaal pad geloop. Die boek eindig treffend met sy woorde: “Ons ry, kom ons ry, Rhoda, dis nog ’n lang, ver pad.”
Die karakters en hulle emosies word treffend uitgebeeld. ‘Die ou man het sy kop tot op sy bors laat sak en toe hy praat, was daar ’n snaakse klank in sy stem, so asof elke woord ’n pendoring was wat in sy hart gesteek het.’
‘Nadat Jafet sy skoon hemp aangetrek het en die waterhouer en die waskom gebêre het, smeer sy versigtig, byna teer, van die Zambuksalf aan sy wang’.
‘Jafet kom teruggestap, hy vat liggies aan Sally se nek. Die donkiemerrie laat sak haar kop asof sy hom wil bemoedig.’
Telkens word die leser verras met ’n unieke gebruik van Afrikaans waarin ek my verkneukel het. Ek noem net ’n paar voorbeelde:
‘Sy onthou hardloop terug na hul groet en afskeid meer as vier jaar gelede’.
‘Askies meneer, as die naam iets moet beteken, is ek te klein van verstand om daarby te kom.’
‘In die vroeë oggendlig lyk hy weerloos, soos ’n droë boom wat in die middaghitte staan.’
‘Jaco sien, noudat hy haar van naby bekyk, dat, ten spyte van haar netjiese voorkoms, die jare oorkruis in haar gesig lê.’
Hierdie uitsonderlike debuut van Karel Nel is ’n plesier om te lees. Geniet hom! Ek sien uit na sy volgende roman.
Genres: Emosioneel, Novelle, Roman
Tags: Hoog aanbeveel, Resensie, Stergradering: Prima Goud
Publisher: Ns. Skrywershuis
Publication Year: 2021
Rating:
List Price: R150.00
eBook Price: R50.00
Karel Nel is 65 jaar oud. Hy is gebore op die plaas De Kruis in die Koue Bokkeveld. Hy het egter grootgeword op die plaas Vredelust in dieselfde distrik. Hy ontvang sy skoolopleiding by verskeie plaasskole. Karel het vir 51 jaar as plaasarbeider op Vredelust gewerk. Hy het nooit ophou lees nie. Hy het graag geluister na enige storie wat in sy nabyheid vertel word. Met hierdie bundel bewaarheid hy sy droom om van hierdie stories in sy eie verhale te omskep.