Lydia Gittens het met hierdie pragboek, Inanna, my voete onder my uitgeslaan. Ek kan haar gelukwens as welverdiende wenner van die Ns. Skrywershuis-prys vir Afrikaanse Literatuur 2021. Hierdie prysenswaardige boek is gemik op die jeug, maar ek het dit terdeë geniet.
(Uittreksel)
ʼn Verdomde duif! Sy pa gee hom ʼn verdomde duif. TJ skop ʼn klip dat dit die lamppaal met ʼn harde klang! tref, loer dan vinnig na die punt van sy tekkie. Gelukkig lyk dit nog oukei. Landswet of te not, sy pa trek die velle van sy lyf af as sy hardlooptekkies iets moet oorkom. Hy gaan sit met sy rug teen ʼn knobbelrige boomstam.
Life sucks.
TJ kry vir sy vyftiende verjaardag ‘n duif as geskenk by sy pa. Hy is egter baie ontevrede. want hy wou eintlik ’n playstation gehad het. Waar hy op die sypaadjie sit en broei, kom daar ‘n langbeenseun, Yusuf, aangehardloop. Wanneer diè by hom stop om water te drink, roekoek die duif in die boks. Tot TJ se verbasing, vind hy uit dat sy geskenk nie sommer net 'n hierjy duif is nie, maar ‘n wedvlugduif.
By die skool vind hy uit dat die einste seun, Yusuf, ook daar ingeskryf is. Wanneer hy pouse na Yusuf soek en hom nie kry nie, besef hy dat Rooies en sy bende hom dalk boelie. TJ vind hulle op die skoolgronde en baklei saam met Yusuf teen die bende. TJ word geskors.
Intussen probeer TJ se pa, wat lief is om diep in die bottel te kyk, sy lewe in rat kry. Hy is afgedank oor sy drinkgewoonte. Hy kry werk by Giovani en Kie en die poppe begin dans.
Uittreksel: “My pa wil hê dat ons van die duif ontslae raak. Hy het haar reeds aan ʼn mutimaker verkoop.” (bl 11). Reeds hier begin die leser se maag draai en wonder jy oor die toekoms van Inanna.
Inanna beteken Lady of the sky, 'n gepaste titel vir hierdie uitsonderlike skrywe. Die verhaal het ‘n sterk stylvorm en verteltrant. Ek hou veral van hoe die skrywer sekere emosies beskryf: ʼn Spiertjie spring in die hoek van Yusuf se mond. Sy gesig is skielik heelwat bleker. (bl. 86)
Ongure karakters en hope aksie sorg vir heerlike leesstof en betrek die leser binne-in elke intrige. Met fyn sinspeling en verdagmakery skep Lydia ‘n goeie balans om geloofwaardigheid aan die verhaal te gee en spanning op te bou.
(UITTREKSEL): Dit moet dringend wees. Die registerjuffrou se rug is na die klas gedraai. Versigtig glip hy die selfoon halfpad uit sy broeksak. Salim se naam flikker op die skerm. Hy klik op die boodskapikoon.
Inanna ernstig gewond.
Die verhaal volg teen ʼn stewige pas. Die skrywer ken haar onderwerp en dit is duidelik dat sy goeie navorsing gedoen het. Lydia beskik oor goeie taalvaardighede en gebruik ryke beskrywings kwistig wat die leser se aandag boei en behou: Hy leun met sy kop teen die muur agter hom en maak sy oë toe. Die beelde is reeds daar. Soos ou vriende. Ma in die wasige rooi rok. ’n Kolkende spiraal om haar enkels. Pa in ʼn manel. Neels wat probeer hande klap. Elke tweede klap is mis. Sy mond half oop. ’n Dun straaltjie spoeg spiraal uit die een hoek. Sy ooglede swaar en skeef. “Kom, Boeta, dans. Boeta, Boeta jy moet ok.” Ma lag. Knipoog vir hom. (bl 127)
Gittens skep ‘n goeie tweestryd en die ontknoping het ‘n onverwagte slot. Sal dit byval vind by die jeug? Sonder twyfel ... beslis!