Karel Willemse is ’n afgetrede onderwyser en joernalis. Die skryf van stories kom uit sy grootwordjare op sy geboortedorp Napier in die Overberg. Sy ma het voor die swart Dover in die kombuis van hulle huis vir hulle stories vertel. Later jare as onderwyser en koshuisvader by die Athlone Skool vir Blindes, moes hy inwonende leerders oor naweke besig hou. Hy neem kortverhale en voeg dialoog by. Die kort “drama” is later in braille omgesit sodat die blinde leerders ook kon deel neem aan die voorlees. So het hy ’n liefde vir lees en die verhoog onder sy leerders gekweek. Later het hulle ’n dramagroep en ’n skoolkoerant begin. Dit het weer gelei tot skoolopvoerings soos “Die beertjie met die gelapte broekie”, “Die prins van Sin” en “Joseph and his amazing technicolor dreamcoat”. Splinterwoorde is sy eerste bundel wat die lig sien.
Splinterwoorde
Die Overberg is en was nog altyd sy skuilte waar hy heen kon reis om sy kragte te hernu. In die bundel probeer hy ’n venster skets waardeur die leser die Overberg kan verken. Van die verhale neem jou op ’n reis deur die pragtige omgewing met mooi herinneringe oor sy lewe.
Tussendeur wissel hy die bundel af met verhale oor die pandemie en die impak wat dit op veral die mense van die Kaapse Vlakte gelaat het. Enkele moderne probleme soos klimaatsverandering word ook in sekere verhale belig. Die skrywer skroom nie om sy misnoeë oor die staat se hantering van die pandemie uit te lig nie.
Met die bundel, Splinterwoorde, ondersoek hy die skryfproses. Saam met dit alles leer ons ook iets van die misterieuse wat in sy werk aangetref word. Willemse delf ongestoord in die wêreld van die mistieke.
Alhoewel die plekke en name bekend klink, is die verhale en karakters fiktief.
Die skrywer nooi die leser uit om saam om die kombuistafel te kom sit, voor die brandende swart houtstoof en om van doerietyd se dinge te lees.
SPLINTERWOORDE is n kortverhaalbundel met unieke storievertellings oor 'n wye verskeidenheid genres,. 'n Unieke Afrikaanse literêre werk.
More info →