
Na sy pa se dood sukkel Wynand om sy pa se stories te onthou. Hy begin om die stories op sy unieke manier neer te pen as nalatenskap vir sy kinders en sy familie. Hoe meer hy skryf, hoe meer terapeuties vind hy dit om sy pa se skielike afsterwe te verwerk.
Want Klippe lieg is ’n prettige bundel kortverhale wat op ’n tong-in-die-kies manier die doen en late vertel van die Schoemans van Wilgerkloof. Die stories sal jou laat lag, jou laat huil en sal jou laat wonder of alles die waarheid is. Op die minste sal die stories vasgevang word vir eendag as niemand meer daar is om die stories te vertel nie. Maak maar tyd om Want klippe lieg te lees, want as jy eers begin, kan jy nie die boek neersit nie.
WAT VERTEL DIE SKRYWER
Die aand na die afsterwe van my pa sit ek en probeer sy stories onthou. Hy het baie daarvan gehou om interessante stories te vertel. Nog te meer om na stories te luister. In my hartseer sukkel ek om ‘n enkele storie te onthou. Ek begin toe om net een woord neer te skryf soos ek die stories onthou. Daardie aand, 1 Julie 2021, was ‘Smiley Face’ my eerste storie wat ek op Facebook geplaas het. Twee dae later moes ek Pa gaan begrawe het.
Tydens die pakkery het ek op ‘n skoenboks vol briewe afgekom. Briewe tussen hom en sy ouers tussen 1968 en 1969 toe hy Veeartsenykunde studeer het op Tukkies. Die briewe het vertel oor die reën, die nuwe bul wat Oupa gekoop het, Ouma se hoenders en die eiervanger wat sy in die hoenderhok met kookwater gegooi het. Nuus oor oom Hendrik en Oupa Fritz en hulle suster, tannie Poppie. Handgeskrewe briewe met eenvoudige persoonlike inligting wat die tyd vasgevang en bewaar het. Dit begin met ‘n ‘Hoe gaan dit met jou’ en eindig met ‘Vele liefde en sien binnekort’.
Na Pa se dood is dit die ding wat ek seker die meeste mis. Sy geselsies en sy raad en sy stories. In my hartseer begin ek net een woord op ‘n slag neerskryf om my ter herinner aan Pa se stories.
Alhoewel ek en Pa ‘n spesiale band gehad het, is dit nie uitsluitlik waaroor ek skryf nie. Ek en Ma en my twee susters het nou nog ‘n baie hegte band, en ons almal mis Pa ewe veel.
Die boek het vir my baie glimlagte, trane, genesing en verlange besorg. Ek is dankbaar vir elke emosie.
Genres: Emosioneel, Hoog aanbeveling, Komies, Kortverhaalbundel, Resensie, Ster-gradering: PRIMA GOUD, Top aanbeveling, Ware lewensverhaal
Tags: Gebasseer op ware verhale, Hoog aanbeveel, Komies, Kortverhaalbundel, Resensie, Stergradering: Prima Goud
Publisher: Ns. Skrywershuis
Publication Year: 2024
ISBN: 9780796154330
List Price: R180.00
eBook Price: R180.00
Wynand Schoeman ag homself ’n plaaskind in murg en been. Sy voorgeslagte het vir jare in die Oos-Kaap naby Grahamstad geboer. Hy het ’n B.Sc honeursgraad in Konstrukiebestuur aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Wynand werk as ’n vryskut konstruksie- en kontrakbestuurder in Gauteng. Hy is woonagtig in Centurion. Hy is 18 jaar getroud met sy universiteitsliefde, Simoné, maar hulle is al meer as 25 jaar aan mekaar se sy. Hulle het twee kinders, Cara (15) en Hendro (13).
Alhoewel hy vandag in die stad bly, boer hy nog met Pinzgauer-beeste en ’n paar skape. Hy bou Landrovers op in sy vrye tyd, en het sy eie vleiskamer waar die jagseisoen se bokke verwerk word.
Hierdie is Wynand se eerste boek.