Dit is vir my vertel ek is doer in die vorige eeu in 1946 gebore, maar met my swak geheue kan ek niks daarvan onthou nie. Moet seker so wees, want hier is ek dan op die aarde. Groot geword in Fraserburg distrik waar ons nog met dolosse en klipkarretjies gespeel het.
My eerste skooljaar was ek in ʼn plaasskool en toe is ek dorpskool toe waar ek matriek gemaak het. Daarna is ek vir twee jaar na Elsenburg Landboukollege toe vir ʼn landboudiploma. Daarna plaas toe gekom en hier is ek nog steeds, deur goeie jare en droogtes.
Ek is getroud met Alecia en ons het een seun, Pieter, tans besig met sy doktersgraad in Veekunde. Vir stokperdjies versamel ek bietjie vetplante, die wat die koue hier kan oorleef. Verder skryf ek so bietjie. Eintlik het ek eers in my vroeg sestigerjare gereeld begin skryf. Tot dusver het ek drie boekies gepubliseer en die vierde is tans by die uitgewer. Daar is mense wat sê ‘dit is goed’ of selfs ‘baie goed’ en die ander sê liewer niks.
Liefde is ‘n kwadrupleeg
Die Psalms, Spreuke en Hooglied het ek oorgeslaan, want dit is gedigte op sigself. Dan het ek gekyk na die profete van Jesaja af tot by Maleagi en hoe baie van hulle profesieë vir ons dag en tyd ook nog ʼn boodskap kan hê.
Dit is almal geestelike gedigte. Ek het begin by die skepping en daarna geraak aan die wettisisme van die Ou Testament.
Die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament wat ook die ballingskap insluit, het ek aangeraak en toe by die Nuwe Testament gekom van die geboorte van Christus af tot by sy dood en opstanding. Daarna het ek gedagtes probeer stimuleer oor hoe sy volgelinge nou veronderstel is om te lewe om sy boodskap uit te dra.
Die Haikoe aan die einde is maar ʼn voëlvlug oor die bundel en ek hou nogal daarvan om hulle te skryf, want dis een manier om baie met min woorde te sê.
More info →