Erika Dykes is ’n debuutskrywer wat vir ‘n paar jaar lank as joernalis by ’n dagblad en later by ’n vermaaklikheidstydskrif gewerk het. Sy het ‘n groot deel van haar loopbaan aan die radiobedryf gewy as bemarker en vryskutomroeper. Daarna was sy betrokke in die kommunikasie- en bemarkingsdepartemente van verskeie staatsinstellings. Sy en haar man Johnny, het onlangs na Mosselbaai gesemigreer.
Die waarheid lê in niemandsland
Terwyl die oorlog voortwoed, stel die Britse offisiere Lords Roberts en Kitchener, die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe in. Malie en haar familie beleef dié verskrikking persoonlik.
Boonop teister die Engelse offisier op sy swewende perd Malie en haar geliefdes soos die onafwendbare noodlot. Die kwelvraag is: het die vloek wat sy uitgespreek het, omgeswaai en volg dit haar en haar nageslag vergeldend? Waar lê die waarheid?
Die verhaal is gegrond op ware vertellings van Maria Magdalena Johanna Grobler wat in 1952 op haar verjaarsdag – vyftig jaar na die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 – op oudioband opgeneem is.
More info →