Die waarheid lê in niemandsland

Toe die vyftienjarige Malie tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n vloek oor ‘n Britse offisier uitspreek, het sy nie besef wat die gevolge daarvan kan wees nie.

Terwyl die oorlog voortwoed, stel die Britse offisiere Lords Roberts en Kitchener, die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe in. Malie en haar familie beleef dié verskrikking persoonlik.

Boonop teister die Engelse offisier op sy swewende perd Malie en haar geliefdes soos die onafwendbare noodlot. Die kwelvraag is: het die vloek wat sy uitgespreek het, omgeswaai en volg dit haar en haar nageslag vergeldend? Waar lê die waarheid?

Die verhaal is gegrond op ware vertellings van Maria Magdalena Johanna Grobler wat in 1952 op haar verjaarsdag vyftig jaar na die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 op oudioband opgeneem is.

Order Now!
About the Book

RESENSIE deur Annalize Hills: Die waarheid lê in Niemandsland deur Erika Dykes

 

Al twee wysers van die muurklok wys loodreg hemelwaarts. Die vorige vier en twintig uur sterf af en skenk geboorte aan die opeenvolgende etmaal. ʼn Magiese vlugtigheid verbind ʼn flerts van dit wat was, vlietend met ʼn fragment van dit wat is. Vlugtig word twee dimensies aan mekaar geopenbaar.

Die gesig skuinsagter my beeld in die spieël hou my blik gyselaar. Dis ʼn ou vrou met lang, kartelende wit hare wat los hang, priemende oë, hoë wangbene en ʼn kalkoennek. Sy praat in my kop. Haar stem is nie andersins hoorbaar nie.

“Kyk en jy sal sien.”’

Hierdie is die inleidingsparagraaf van Die waarheid lê in Niemandsland deur Erika Dykes en dit is juis die motivering vir die omslag.

Erika Dykes skryf ’n uitsonderlike verhaal met die hulp van dagstukke, briewe en bandopnames van haar oumagrootjie, Malie Grobler wat sy ontdek tussen haar oorlede ma se besittings. Hierdie klankopnames is opgeneem op 31 Mei 1952 tydens haar oumagrootjie se 67ste verjaardag, 50 jaar na die  Anglo-Boereoorlog (1899–1902).

Malie Grobler, ’n 15-jarige dogter van Maria Grobler, is ’n fynbesnaarde kind en kon aanvoel dat die Engelse op pad is. Om die waarheid te sê, sy ruik hulle aankom.

“Ek ruik hulle!”

“Hoe kan jy hulle ruik – jou verbeelding het jou altyd op hol!”

“Ek ruik cigarette-rook,” antwoord Malie saaklik. (Bl. 4)

 

Toe die Engelse, begelei deur Luitenant-kolonel Lloyd, die plaas bereik, vervloek Malie hom. Sou daardie vervloeking deur die hele oorlog van krag wees? Of sou dit net van toepassing wees op Luitenant-kolonel G. E. Lloyd, bevelvoerder van die West Ridings Regiment van Engeland? Dit is die vraag wat Erika Dykes gemotiveer het om die boek te skryf. ’n Raaisel op ’n vergeelde stukkie papier. Soos Grietjie in die sprokie, tel sy krummels op en hoe meer sy lees en luister hoe meer ontdek sy gebeure wat haar soos ’n snuffelhond na die waarheid laat soek.

’n Interessante feit was dat die soldate nie net uit Engelse manskappe bestaan het nie. Onder hulle was daar ook Australiërs en Nieu-Seelanders. Sommige boere wat oorgegee het (hensoppers) en joiners wat  na die Britte se kant oorgeloop en hulle eie mense verraai het, is deur die Britte beskerm. Boere wat deur die Engelse gevang is, is as krygsgevangenes na verskeie kampe in Ceylon, Sint Helena (Sri Lanka) en Indië verban waar hulle aangehou is.

Met  drie groot veldslae tussen Boer en Brit aan die begin van die oorlog –10 Des 1899 te Stormberg, 11 Des 1899 by Magersfontein en 15 Des 1899 te Colenso, was daar baie gesneuweldes, gewondes, maar groot oorwinnings deur die Boere (die Britte het dit as die Black week bestempel). ’n Onewe stryd en strewe van die Britte na rykdom wat nie aan die onderdrukker behoort het nie, het ontaard in die uitwissing van  onskuldige vroue en kinders. Die leser beleef die gevare, selfs magteloosheid wat die boergesinne ervaar toe hulle plase afgebrand is en die vrouens en kinders na die konsentrasiekampe geneem is. Alle diere is sinneloos doodgemaak.

‘Hoenders skree, varke kerm, ganse blaas. Ses bajonette steek in ʼn enkele vark en hy slaan neer. ʼn Kakie sny stukke van ʼn ander vark af en hang dit aan sy saal.’ (Bl. 73)

Die lyding en siektes, hongersnood en selfs mishandeling was skokkend. Daarby was kosrantsoene tot die minimum beperk. Vleis was vrot en oneetbaar.

‘Malie sien die veragting in Ma se oë. “Daai dooie vleis is in elk geval pure slym. Ons kan nie waag om ons monde daaraan te sit nie.”

Die vorige week toe Malie met die skotteltjie vleis by die tent aankom, kom Ma uit en bekyk die vleis. Dis slymerig en vol vuilgoed. Sy vat die stuk vleis en gooi dit vies teen die vuilgoedkan wat buite die tent staan. Daar sit die stuk vrot vleis vas! Heelwat later het Ma dit gaan aftrek en wrewelrig in die kan gegooi.’ (Bl. 108)

Daar is geen tekort aan snaaksigheid nie.  Met ’n tikkie humor vertel die skrywer van die drie Engelse manskappe wat op die plaas aankom en ’n hoender wil  koop. Ek ervaar ’n tikkie sinisme in die volgende aanhaling:

‘Wilkinson haal ʼn halfkroon uit sy sak en gee dit vir Annie. Die munt lyk of dit gepoets is, die silwer blink in die sagte namiddaglig. Queen Victoria se bekroonde kop kyk hoogmoedig in die rigting van die letters Victoria Dei.’ (Bl. 12)

Terwyl die Kakies die hoendertjie verslind, staan Malie en Annie op ’n afstand en kyk.

‘“Die ou hoendertjie is seker nog blou,” sê Malie terwyl sy en Annie van ʼn veilige afstand gadeslaan hoe die taai hoender verslind word. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd lag die niggies oor die koddigheid van ʼn oomblik en die juk van die Anglo-Boereoorlog voel ʼn bietjie ligter.’ (Bl. 12)

Met ’n kundige skryfstyl wat beide die brutaliteit en intensiteit van oorlog vasvang, weef Dykes ’n narratief wat resoneer met egtheid en passie – so relevant vandag as toe dit die eerste keer neergepen is, het Die waarheid lê in Niemandsland, ’n klassieke voorbeeld geword van die ontembare menslike gees in tye van teëspoed.

Hierdie verhaal is in detail geskryf – verwoesting, die lewe in ’n konsentrasiekamp, die dood van kinders en interessante geskiedkundige feite. Daar was ook nie net die sleg nie, maar ook die goed en uit die stemopnames vertel Malie veral ook van die goeie Britte wat simpatie getoon het. Erika Dykes se navorsing is prysenswaardig – sy was immers ’n joernalis wat by ’n dagblad en later by ’n vermaaklikheidstydskrif gewerk het. Sy kombineer die vertellings en kleur dit in met realistiese fiksie. Dykes betrek die leser by die verhaal op ’n boeiende wyse.

Alhoewel daar al so baie boeke geskryf is met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond, word hierdie verhaal briljant verweef met vars inligting en geloofwaardige fiksie. Ek beskou dit as ’n historiese meesterstuk. Met keurige formulering en betroubare inligting is hierdie verhaal lesenswaardig en onderhoudend binne die raamwerk van die publikasie medium.

Die waarheid lê in Niemandsland is uniek. Dit is ’n eerste waar die leser van die e-boek vermaak word deur videos en stemopnames van die gebeure in  1899 – 1902 deur skakels wat in die formaat geplaas is. –

Mag hierdie verslag enige leser aanmoedig om hierdie interessante boek te lees en te geniet.

 

 

Book Club Resources
Order Now
About the Author
Erika Dykes

Erika Dykes is ’n debuutskrywer wat vir ‘n paar jaar lank as joernalis by ’n dagblad en later by ’n vermaaklikheidstydskrif gewerk het. Sy het ‘n groot deel van haar loopbaan aan die radiobedryf gewy as bemarker en vryskutomroeper. Daarna was sy betrokke in die kommunikasie- en bemarkingsdepartemente van verskeie staatsinstellings. Sy en haar man Johnny, het onlangs na Mosselbaai gesemigreer.