Sidestoep stories
Haar geliefde en immergewilde nostalgiese stories oor haar kinderjare in Graaff-Reinet (of Graaffernet) het talle lesers vermaak en bied historiese inligting oor die geskiedenis en gebeure van hierdie historiese dorp. Elise se sin vir humor kom ook kort-kort voor in haar vertellings en sy beeld die vele kleurvolle karakters uit met ewe goeie en intense beskrywings. Die fynste detail word neergepen en smaaklik vertel in die statige milieu waarin elke verhaal afspeel.
Hierdie memoirs-verhale is geskryf in die streektaal, Graafrikaans, ’n mengsel van Afrikaans en Engels soos dit in daardie tyd gepraat was. Lesers uit enige streek van Suid-Afrika sal hierdie prag verhale ook terdeë geniet.
GRAAFFERNET SIDESTOEP STORIES is deel van ons erfenis, ’n stukkie Africana wat gepas inskakel by die vieringe van Afrikaans Amptelik 100-vieringe 2025.
More info →Dit was so hittete
Willem Fransman Jr is ‘n boorling van Worcester in die Boland. Hy en sy gesin sou, toe hy ses jaar oud word, ‘n beter lewe in die stad gaan soek. Dit is die bruisende lewe op die Kaapse Vlaktes, wat hom in later jare gedryf het om ‘n ‘stem van die Vlaktes’, te word.
Fransman se eerste skrywerssukses kom met die aanwysing van hom en 10 ander kortverhaalskrywers om ‘n slypskool in Paternoster na afloop van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium (1995), by te woon. In ‘n landswye kompetisie, word hy in 1997 as die eerste wenner van RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie, met Om te bedel is ’n kuns, aangewys. Daarna maak hy verdere inritte op die letterkundige landskap. ’n Kortverhaal, ’n Bok vir ’n gaping, (1999), word in ‘n kortverhaalbundel opgeneem wat vir Graad 12’s in skole voorgeskryf was.
Verskeie opdragwerke vanaf RSG (vir radiodramas) en verhoogdramas (vir kunstefeeste), volg. Hierdie veelsydige kreatiewe woelgees tree as amateur akteur, regisseur, storieverteller en voordragkunstenaar by verskeie kunste-feeste op.
Sy eerste gepubliseerde dinkstuk of artikel, ’n Storie, my koninkryk vir ‘n storie!, verskyn in 1995 vir die ATKV se Taal-genoot. Rubrieke in Die Burger en Kaap Rapport volg. Met die totstandkoming van die Son op Sondag, word hy een van hul eerste rubriekskrywers. Die rubrieke wat hy vanaf 2017 vir Netwerk24 se Stemme geskryf het, is in die boek saamgevat.
Dit was so hittete bevat verskeie artikels en stories uit die joernalistieke-wêreld van Willem Fransman jr., keurig saamgestel vir 'n ware lesersgenot.
More info →
