AFRI-allegaartjie

AFRI-allegaartjie

R220.00

Om Afrikaans 100-jaar te vier het Ns. Skrywershuis Uitgewer, deur hul Facebookblad en Naskrif, uitdagings aan lesers geplaas en uitgenooi om ’n kortverhaal te skryf na aanleiding van fotobeelde.

Verskeie temas, emosies en genres is hierdeur aangeraak en die slotsom is ’n verhaalbundel van romanse, verlies, wraak, nostalgie en humor.

Uit hierdie inisiatief het verskeie begaafde en veelsydige skrywers na vore gekom wat nog nooit voorheen ’n verhaal geskryf het nie − dit is werklik prysenswaardig. Verhale met die grootste impak is daarna saamgevat om hierdie bundel saam te stel met die uitsluitlike doel om elke leser net die grootste leesgenot te bied.

More info →
HARTSWATER – die rou van onthou

HARTSWATER – die rou van onthou

R230.00eBook: R230.00

Die plaasaanval en brutale moord van  Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54), het Suid-Afrikaners in 2020 geruk. Die voortslepende hofsaak teen die beskuldigdes is deur almal gevolg.

Die barbaarse, onmenslike en koelbloedige moorde is tot in die fynste besonderheid beskryf. Met elke hofsitting moes familie weereens die traumatiese gebeure ervaar en die beskuldigdes van aangesig sien.

Die opspraakwekkende feite en details nie bekend aan die publiek nie, word in detail neergepen.

In hierdie boek dra Heidie Taljaard, een van die dogters van Dan en Breggie en suster van Elzabie haar emosies oor, die wreedheid en ontnugtering, die onvergeetlike en onvergeeflike.

Is vergifnis enigsins ’n opsie? Uit hierdie moord is daar meer as net die drie onskuldige slagoffers. Nabye familie, hulle wat agterbly word ook slagoffers.

Hoe verwerk jy hierdie brutaliteit en vind jy enigsins berusting?

Waar vind jy antwoorde op vrae oor waarom hulle? Waarom ons? Het ons iets verkeerd gedoen en word ons gestraf?

Vyf jaar na hierdie grusame plaasaanval loop Heidie steeds die kronkelpad na Hartswater – die rou van onthou.

More info →
Weersiens verby Emmaus

Weersiens verby Emmaus

R175.00eBook: R175.00

Hierdie skatkis wag om herontdek te word in die eenvoud van Weersiens verby Emmaus, ʼn kontemplatiewe rekonstruksie van die bekende Emmaus-verhaal in die Lukas-evangelie. Die hernieude blik op besinning in moderne tye is verfrissend. Geen Skrifverklaring bevredig as dit nie ook die taal van vlees en bloed praat nie. Twee dissipels uit Jesus se groter groep volgelinge kies na die kruisgebeure die hasepad Emmaus toe. Kleopas en sy mededissipel bevind hulle ontwetend in die briljante lig van die verrese Heiland. Hulle weet nie die Meester openbaar Hom soos hulle Hom sien nie, ʼn vreemdeling. Die vrae en uitsprake waarmee hulle worstel, weerspieël ook die mens se eksistensiële pyn. Die lewe is so te sê verborge kruisgebeure en vra ʼn ander soort verstaan – herkenning. Soos die verhaal ontvou, word die leser opgeneem in die mistieke onderbou en opbou na die klimaks wanneer die Emmaus-gangers die Vreemdeling herken in die breking van die Brood. Die gesprek in Weersiens verby Emmaus met Wie en Wat wag om herken te word, neem die leser hart brandende tot in die hede.

More info →
Die ontwerper se dogter

Die ontwerper se dogter

R180.00eBook: R180.00

Professor Pienaar, ‘n aangetroude familielid en navorser, raak betrokke by hierdie ontwrigtende omstandighede.

Pinkie, die huishulp, probeer sin maak uit al die dinge rondom haar wat skielik nie meer sin maak nie.

Terwyl nuus omtrent die onbekende skoonheid bekend raak, raak die Steenkamp-familie bewus van mekaar. Terselfdertyd ontstaan ‘n waaksaamheid; daar mag nie tweedrag op Eendracht gesaai word nie. Hoe meer elkeen probeer sin maak uit Oda se besoek, hoe meer besef elkeen hulle word betrek by sake waarvan hulle nie kennis dra nie.

Algaande raak meer mense betrokke. Skepper van die welbekende mode-naam, Isabella du Preez, moet keer dat navorsing uit rotgevrete houers verstrengel raak by haar ontwerper-skeppings uit die boonste rakke.

Sal daar ooit ‘n einde kom aan hierdie geskarrel!

More info →
Sidestoep stories

Sidestoep stories

R180.00eBook: R180.00

Haar geliefde en immergewilde nostalgiese stories oor haar kinderjare in Graaff-Reinet (of Graaffernet) het talle lesers vermaak en bied historiese inligting oor die geskiedenis en gebeure van hierdie historiese dorp. Elise se sin vir humor kom ook kort-kort voor in haar vertellings en sy beeld die vele kleurvolle karakters uit met ewe goeie en intense beskrywings. Die fynste detail word neergepen en smaaklik vertel in die statige milieu waarin elke verhaal afspeel.

Hierdie memoirs-verhale is geskryf in die streektaal, Graafrikaans, ’n mengsel van Afrikaans en Engels soos dit in daardie tyd gepraat was. Lesers uit enige streek van Suid-Afrika sal hierdie prag verhale ook terdeë geniet.

GRAAFFERNET SIDESTOEP STORIES is deel van ons erfenis, ’n stukkie Africana wat gepas inskakel by die vieringe van Afrikaans Amptelik 100-vieringe 2025.

More info →
As stilte praat

As stilte praat

R195.00eBook: R195.00

Daar is tans wêreldwyd ʼn herontdekking van die Christendom se kontemplatiewe en mistieke tradisie. As Stilte Praat, is die outobiografiese vertelling van ʼn gesprek – geestelike begeleiding – met ʼn Katolieke non. Dit dek ʼn belangrike en bepalende tydperk van 11 jaar in die skrywer se lewe, hy kom geestelik letterlik tot verhaal. Die gesprekke is merkwaardig, veelvlakkig, insiggewend en betekenisvol. Hy betree versigtig nuwe geestelike horisonne en gee ʼn vergesig op die verborge Christelike mistiek van geleidelike verdieping en rypwording. Die skrywer takel die harde werk van selfondersoek en oorpeinsing en delf algaande die uitnodiging na lewe sonder einde. Die Nederlanders praat van ʼn teks om “van stil te word”. As Stilte Praat spreek van deurleefde geestesaanskoue waar stilte, oorpeinsing en uitdagings sakramentele gereedskapsmiddele word vir dieper wese en wording. Kontemplasie gebeur inderdaad wanneer die stilte praat.

More info →
Waar bloed kruip

Waar bloed kruip

R220.00eBook: R220.00

Die moorde se modus operandi is bykans eners. Waarom hierdie moorde – wie en wat skuil daar agter?

Na meer as ʼn jaar van weinig vordering, ontvang kaptein Borman ʼn wenk per telefoon wat die koue saak ’n verrassende wending gee. Kan die moordenaar nóú vasgetrek word?

Waar bloed kruip is diggeweefde speurverhaal met hoogspanning en verrassende intriges  en ’n onvoorspelbare einde.

Die leser sal sukkel om Waar bloed kruip neer te sit!

More info →
Nemesis

Nemesis

R155.00eBook: R155.00

Soos Nemesis, die Griekse godin van vergelding, help sy elkeen van hierdie vroue om op te staan en terug te veg, te neem wat hulle toekom. En die mans kry wat húlle toekom. Die verhaal ontwikkel rondom elke vrou se vergelding vir wat haar aangedoen is. Soms vereis goeie uitkomste selfs vennootskappe met slegte mense.

Chris het ‘n geheim. Sy is verantwoordelik vir die dood van haar eks, Thomas. Sy móét Andreas, haar vennoot en die man wat haar help heel het, vertel, maar vrees dat sy hom sal verloor.

Wie is die geheimsinnige James Sinclair en Omar Lebus? Is een van hulle ‘n voortvlugtige pedofiel? En waar pas die Kaapse mafiabaas Denys Alekseev en sy wulpse Katya in die prentjie? Wie is die Rooikop en wie is pastore Áncora de Salvació en Cornelio? Die leser moet kophou om die ineengevlegte intriges en ontknopings te volg.

Die ondertoon is by tye ernstig, verlig deur ligter oomblikke en onverwagte wendings.

Die poppe dans behoorlik in Nemesis!

More info →
God se bobbejaan

God se bobbejaan

R320.00eBook: R320.00

Die eerste is met ’n vermanende vinger en ’n streng gesig wat sê: “Praat die waarheid, my kind, want God het die waarheid lief.” Die tweede is met ’n swaar sug en ’n vraag die onbekende in: “Ja, ou wêreld, wat is jou waarde? ’n Kissie van plank ses voet onder die aarde.” Dit het hom intens bewus gemaak van hierdie konsepte. Is dit dan waar dat God ook die waarheid, dat die wêreld waardeloos is, lief het?

Sy vriend Josias het ander idees gehad, hom tot ander insigte probeer bring, maar Hannes het in sy naïwiteit vasgeskop: “Ja! Dan is ek God se bobbejaan. Laat ek dan bobbejaan wees wat nie verstaan nie en nie weet nie. Maar ek glo wat ek beleef het.”

Met kundigheid weef die skrywer, Johannes, ’n gesprek met homself deur die twee karakters te skep – Jo en Hannes.

More info →
Die Here woon ook in ons vallei

Die Here woon ook in ons vallei

R200.00eBook: R200.00

‘n Groot deel van die getuienisse van wonderwerke kom uit die Watervalsriviervallei tussen Lydenburg en Burgersfort. Vandaar die titel, Die Here woon ook in ons vallei. Elke sessie wat hy geskryf het, is deur gebed voorafgegaan om die leiding van die Heilige Gees te kry vir wat geskryf moet word.

Die doel van die boek is om die geloof van gelowiges te versterk en om diegene wat nog nie hulle lewe aan Jesus gewy het nie, aan te moedig om dit te doen. Dit is ook ‘n bevestiging dat die die Gees van God tussen ons woon en vandag nog wonderwerke doen. Ons moet net oop wees om dit raak te sien.

UITTREKSEL VOORWOORD

Die Here is almagtig en alomteenwoordig. Dit beteken dat Hy gelyktydig oral teenwoordig is, oor die hele wêreld en in die heelal. Sy Gees woon in die harte van dié wat Hom aangeneem het.

Hy woon en werk dus ook in die Watervalsriviervallei, waar ons woon en waar ons al soveel van sy wonderwerke gesien en van gehoor het. Hier lei, behoed en bewaar Hy ons nog steeds soos in die Bybelse tyd. Ons beleef God só in ons vallei en daar buite, in terme van verhoring van gebede en wonderwerke wat plaasvind, dat ek geruime tyd al gedring gevoel het deur die Heilige Gees om hierdie boek die lig te laat sien.

Dit was Maandagaand 21 Maart 2011. Ek het ’n lys van getuienisse opgestel en besluit om by die kerk, ons Manne Bybelstudiegroep en ons selgroep te vra vir inligting wat in die boek opgeneem kan word.

Die doel van hierdie boek is om te getuig van die wonderdade van God, om Hom te prys en sy Naam groot te maak. Dit is bedoel om dié wat reeds glo, se geloof te versterk en die wat nie glo nie, te oorreed om Jesus Christus as hulle Saligmaker aan te neem. Daardeur sal die koninkryk van God uitgebrei word.

Prys die Here, die God van Abraham, Izak en Jakob, wat ook my persoonlike Verlosser en Saligmaker is.

More info →
Paddaboudjies en kalasjnikofs

Paddaboudjies en kalasjnikofs

R130.00eBook: R130.00

Die verhaal is hoofsaaklik gebaseer op ware gebeure, maar is inderwaarheid ʼn vermenging van feite en fiksie. Daar is ʼn Learjet met ʼn beeldskone vroulike medevlieënier, ʼn helikopter, Russe en Kalasjnikofs. Die skrywer kla die omkopery en korrupsie aan wat onder sy aandag gekom het tydens sy werk as vertaler en tolk. Die leser kan avontuur, aksietonele verwag en daar word so ʼn bietjie gekafoefel ook ...

Die skrywer onthul ook ʼn paar besonderhede oor die politieke gebeure van die afgelope dekades en sê onomwonde wat hy dink van sekere mense wat dink hulle is baie belangrik. Hy beskryf die woelige agtergrond waarteen die gebeure hom afspeel in en om Mali se hoofstad Bamako.

Die vae grense tussen werklikheid en fantasie word verbloem deur die hallusinasies wat die skrywer ervaar as gevolg van malariamedikasie. Dit laat die leser wonder wat het rêrig gebeur – wat is aangedik of moontlik versin?

Die skryfstyl is nuut en vars, met ʼn goeie dosis humor en woordspeling en sal vir seker die leser wat meer verlang as ʼn alledaagse vaal verhaal, se verbeelding aangryp en meer as genoeglik laat.

More info →
VAN NÊRENS NA ÊRENS

VAN NÊRENS NA ÊRENS

R180.00eBook: R180.00

Haar ouers was trekboere wat skaap aangejaag het van staning tot uitspanplek, van weiding tot weiveld – altydmaar waar daar water is. Hoewel hulle bestaan moeilik was en van God se genadehand afhanklik, is die gesin relatief gelukkig en haar en Boetie se verhouding met Gert, hul aangenome Khoi-San broer, is kosbaar.

Kabous se verhouding met liewe Jesus is dié van intense belewing, veral in haar nagtelike drome. Haar geloof in die hemelse Vader is roerend wanneer sy bid vir water, vir reën, dat die skaap mekaar nie moet doodtrap wanneer hulle die reuk van water kry nie ...

En dan haar belewing van die Kalahari-veld en -duine, haar liefde vir Ruby, haar perd wat sy al op die ouderdom van vier jaar bloots ry sodat die salpeter in wit skuimbolle op hom staan! Haar liefde vir Oupie, en vir Pa en Ma en Boetie – ten spyte van haar vurige humeur wat met tye die bloed laat loop.

Kiewiet is ʼn veldkind, kind vir die ooptes en die duine, kind wat baie vrae vra en selfs meer oor baie dinge dink. Lydia wil nie skool toe gaan nie; die inperking van haar vryheid is ʼn lot wat sy swaar aan dra. Toe sy standerd vyf voltooi, jok sy oor haar afskeidsbrief van die skoolhoof aan haar ouers en maak of sy dit verloor het. Sy het nie. Sy en Ruby het die brief self oopgemaak en gelees ... en sy het dit fyn verflenter en vir die wind gegee. En sy hét matriek voltooi.

Min van Lydia-Kabous-Kiewiet se drome het tot volkomenheid gekom; vandag nog worstel sy met gevoelens en emosies oor gebeure wat sy eers later, soort van, verstaan het. Haar verhaal is hartwringend, vol emosie, maar ook gesaai met humor en verrassings. Niemand sal die boek neersit sonder om nog lank agterna, deur Kabous se lewe aangeraak te wees nie.

More info →
Die laaste Psalm

Die laaste Psalm

R130.00eBook: R130.00

Hulle het na die Huis vir Afrikaanse poësie (HAP) in Capitalpark gekom, en kom nou nog, om nuwe verse van hulle en ander belangrike digters te verken, ook tekste uit ander tale soos Engels en veral Nederlands.

My kritiek op (slegs) die vormgewing help hulle telkens slyp aan wordende gedigte. Party het dit al vergelyk met houtwerk: skuur, skaaf, saag. Antjie Krog moedig digters aan om te snoei.

Die gedigte in hierdie bundel verwys soms na Niel se kennis van en belangstelling in hout, waar die liefde, geloof en beginselvastheid egter die botoon voer. Ons bring hulde aan ‘n digter van volwassenheid en deernis.

Dankie aan sy familie wat die gedigte in boekvorm bring. Daar is naas die droewigheid ook meermale vreugde uit die verse te put.

 

Ian Raper

 

NIEL VAN ASWEGEN (28/10/77 – 12/04/2022)

Dit was sy droom om eendag sy gedigte in ’n bundel te publiseer wanneer dit ‘goed genoeg’ is.

Op 12 April 2020 sterf Niel onverwags aan kanker, vóór hy hierdie droom van hom kon bewaarheid.

Met die hulp van sy ma Lettie en die kundigheid van die digter Ian Raper, sien sy bundel van uitsonderlike gedigte die lig.

Niel verdien ’n plek onder ons talentvolle digters en gee ons lewe aan sy passie vir digkuns. Mag sy sielswoorde ’n inspirasie wees aan almal wat dit lees.

Ons gee graag aan sy drome vlerke.

More info →